
Die beste plaaslike Terroir-wyne is op die sesde jaarlikse Novare SA Terroir-wyntoekennings in Durbanville op die Meerendal-landgoed aangewys.
’n Rekordgetal van 251 inskrywings is vir vanjaar se kompetisie ontvang. Slegs wyne gesertifiseer as ’n enkelwingerdwyn of ’n landgoed-geproduseerde wyn kan aan dié kompetisie deelneem. Wenners word aangewys vir kultivarwyne, rooi- en witversnitwyne, rosé, vonkelwyn en dessertwyn.
Vanjaar is vir die eerste keer ’n topwynlandgoed aangewys. Volgens mnr. Marius Labuschagne, stigter van die SA Terroir-wynkompetisie, is een van die ikoniese uitbeeldings van ’n terroir-spesifieke wyn ’n landgoedwyn.
“Produsente wat dit met ’n passie toepas, verdien inderdaad erkenning. Daarom gaan die Novare-trofee vir Suid-Afrika se top-wynlandgoed vanjaar oorhandig word,” sê Labuschagne. Dié trofee is aan mnr. Gary en mev. Kathy Jordan se Jordan-wynlandgoed van Polkadraai Heuwels in die Stellenbosch-distrik toegeken.
Jordan het vier wyne ingeskryf wat vir die finale ronde gekeur is en het twee nasionale wenners opgelewer, die Jordan Riesling 2009 en Jordan Nine Yards Chardonnay 2009. Albei wyne het van die hoogste puntetoekennings gekry uit al die inskrywings in al die klasse.
Die tweede Novare Trofee vir die SA Terroir-Topwyngebied is aan die Durbanville-wyk toegeken. Benewens drie nasionale wenners, het 16 wyne wat vir die finale ronde gekeur is, uit Durbanville gekom.
“Sedert die eerste kompetisie ses jaar gelede, het ons jaar ná jaar rekordinskrywings ontvang, wat toon daar sal altyd ’n plek wees om wyne wat geskep is van druiwe uit ’n spesifieke wyngebied se lof te besing.
"Elke jaar se uitslae wys duidelik dat Suid-Afrika ’n wynland vol veelsydige terroirs het, met ’n groot verskeidenheid gehaltewyne in baie verskillende gebiede. Min lande kan met ons meeding met die bereiding van hoëgehaltewyne in alle style van alle kultivars,” sê Labuschagne.
“Die wyne is gekompliseerd en kan waarskynlik ure lank bespreek word, maar hulle is beslis nie vervelig nie.”
Die meeste inskrywings was Sauvignon blanc (35), gevolg deur Shiraz (28), Cabernet Sauvignon (24), Chardonnay (23), Rooi Versnitte (23) en Pinotage (22).
Die beoordelaars vir vanjaar se kompetisie was Altus le Roux, Andrea Freeborough, Dave Hughes, David Biggs, Erika Obermeyer, Guy Webber en Pierre Marais. Die tegniese koördineerder was Charl Theron.
Kyk hier na 'n foto-album van die geleentheid.
Die Nasionale Wenners in die SA Terroir-Wyntoekennings vir 2011
Top-Chenin blanc: Welbedacht Barrel Fermented Chenin Blanc 2005
Top-Pinotage: Welbedacht Pinotage 2009
Top-Sauvignon Blanc: Durbanville Hills Biesjes Craal Sauvignon Blanc 2009
Top-Rosé: Durbanville Hills Merlot Rosé 2011
Top-Wit Versnit: Hermanuspietersfontein Die Bartho 2010
Top-Cabernet Franc: Hermanuspietersfontein Swartskaap 2009
Top-Chardonnay: Jordan Nine Yards Chardonnay 2009
Top-Riesling: Jordan Riesling 2009
Top-Petit Verdot: Signatures of Doolhof Petit Verdot 2009
Top-Malbec: Signatures of Doolhof Malbec 2009
Top-Viognier: Beau Constantia Cecily 2010
Top-Gewürztraminer: Neethlingshof Gewürztraminer 2011
Top-Semillon: David Nieuwoudt Ghost Corner Semillon 2009
Top-Rooi Versnit: Dieu Donné Cross Collection Merlot/Cabernet 2008
To- Merlot: Klein Roosboom Merlot 2009
Top-Shiraz: Anura Syrah Limited Release 2007
Top-Cabernet Sauvignon: Bon Courage Inkara Cabernet Sauvignon 2009
Top-Cap Classique Vonkelwyn: La Motte Methode Cap Classique Brut 2008
Top-Port: Bergsig Cape LBV 2001
Top-Muscat: Nuy White Muscadel 2005
Top Natuurlike Soetwyn: Lourensford Winemakers Selection Noble Late Harvest 2009
28 Julie 2011