
’n Kleiner oes en ’n insinking in die vraag na Suid-Afrikaanse wyn in die buiteland kan oor die volgende vyf jaar probleme vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf veroorsaak.
Só sê me. Yvette van der Merwe, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf- en inligtingstelsels (Sawis). Sy het Woensdag (21 Junie) op die Wyn- en Olyfekspo op Kronenburg buite die Paarl ’n praatjie oor die toekoms van die plaaslike wynbedryf gelewer.
Volgens Van der Merwe het die totale aantal hektaar wyndruiwe in die laaste jare heelwat afgeneem, veral sedert 2005 toe die syfer op 3 654 hektaar gestaan het. Verlede jaar is egter net 2 453 hektaar wingerd aangeplant terwyl 3 717 hektaar uitgekap is.
Ouderdom maak saak
Die ouderdom van plaaslike wingerde kwel ook. Van der Merwe het veral daarvan melding gemaak dat 43% van Suid-Afrika se rooiwyn-wingerde 11 tot 15 jaar oud is en 27% van die witwyn-wingerde ouer as 20 jaar.
“Ideaal gesproke moet nie meer as 20% van ons wingerde ouer as 20 jaar wees nie. Verkieslik moet 20% ook jonger wees as vier jaar,” sê sy. Volgens Van der Merwe se statistieke is 9,6% van die wit-aanplantings jonger as vier jaar en slegs 5,3% van die rooi jonger as vier jaar.
Die totale wynoes was 1 033,4 miljoen liter in 2009. Verlede jaar het dit tot 984,8 miljoen liter geval. Volgens Sawis se vooruitskatting vir vanjaar behoort die oes op 992, 5 miljoen liter te staan gekom.
Van der Merwe het gewaarsku teen die gevare van ’n klein oes, wat die bedryf in die moeilikheid kan dompel. Bestendige produksie is as baie belangrik bestempel.
Buitelandse verkope daal
Sy het ook daarop gewys dat terwyl die verkope van Suid-Afrikaanse wyn in die buiteland tot in 2009 skerp gegroei het, die verkope van verpakte wyn in die afgelope 6 tot 12 maande skerp geval het.
Wyn in groot maat verkoop, wat elders verpak word, groei baie sterk en het die afgelope ses maande met 24,3% gestyg. Die totale uitvoer in die afgelope ses maande is egter met 10,2% af.
Op ’n vraag van ’n plaaslike boer, mnr. Jean van Rooyen, oor die toetrede van Walmart tot die Suid-Afrikaanse mark het Van der Merwe geantwoord dat plaaslike invoertariewe boere beskerm teen die storting van baie goedkoop wyn.
Van Rooyen het verwys na gerugte dat Walmart beoog om wyne uit Italië en Spanje teen sowat R12 ’n bottel in hul winkels te verkoop. In so ’n geval het boere twee verwere, volgens Van der Merwe.
Die invoertarief kan óf verhoog word, wat die invoer nie meer winsgewend sal maak nie, óf storting kan bewys word wat dié invoer sal verhinder.
21 Julie 2011