
Versnelde kultivarontwikkeling en kommersialisering wat veral produsente van gelisensieerde tafeldruiwe en kersies sal bevoordeel, sal spruit uit ’n onlangse oorname en samesmelting van vrugte- en voedselmaatskappye in Amerika.
International Fruit Genetics (IFG), een van die wêreld se voorste verskaffers van druiwe-, kersie- en rosyntjiekultivars, word binnekort oorgeneem deur die internasionale voedselmaatskappy AM FRESH en Special New Fruit Lisencing (SNFL), wat toegespits is op navorsing en ontwikkeling.
IFG en SNFL sal saamsmelt in ’n poging om hul kweekvermoë uit te brei en in die ongekende bedryfsvraag te voldoen, luidens ’n verklaring. AM FRESH sal die beherende aandeelhouer wees, met EQT Future en Paine Schwartz Partners wat minderheidsaandeelhouers is.
“Dit sal aan gelisensieerde produsente, vennote en verbruikers meer volhoubare alternatiewe en beter kultivarkeuses bied. Tesame sal AM FRESH, SNFL en IFG innovasie aandryf, produksiebestuur vir produsente vergemaklik en kommersialisering met kleinhandelsvennote moontlik maak sodat innoverende kultivars regdeur die jaar aan verbruikers beskikbaar kan wees,” lui die verklaring.
Mnr. Alvaro Muñoz, uitvoerende hoof van die AM FRESH-groep, sê hulle wil aan die voorpunt staan van kultivar-innovasie.
“Ons wil ’n omvattende portefeulje van innoverende kultivars bou wat voordelig is vir die omgewing en gesondheid. Deur ons gekombineerde navorsing en ontwikkeling, landboutegnologiese vermoëns en hoë standaarde kan ons ’n vars aanbod op die tafel sit en die tafeldruifbedryf na die volgende vlak voer.”
Die Kaliforniese maatskappy IFG het ’n groot omwenteling in veral die tafeldruifbedryf teweeg gebring met die bekendstelling van gesogte druifkultivars soos Cotton Candy, Sweet Celebration en Sweet Sapphire.
Die SNFL-groep doen al meer as ’n kwarteeu lank navorsing en ontwikkeling op tafeldruiwe. Hy het ’n supermoderne innovasiesentrum waar genetici, molekulêre bioloë, landboukundiges en tegnoloë werk. Die groep het veral sukses behaal met spesialisgegeurde, siekteweerstandige tafeldruifkultivars wat baie antioksidante bevat.