
My naam is Thinus Strydom en ek en my vrou Yolandi bly op die plaas Kromdraai, so 35km buitekant Standerton. Eintlik is Yolandi die boer wat die projek behartig, ek is ’n mynbou-ingenieur en werk meeste van die tyd buite die land, so my arme vroutjie doen al die werk met haar spannetjie van vier mense - ek probeer om van ’n afstand raad te gee en kop te krap oor hoe ons die beste te werk kan gaan om van die projek ’n sukses te maak. Let wel, nie een van ons twee kan ons uitgee as boere nie, ons leer maar so op ’n drafstap en geen van my skrywes kan aangesien word vir enigiets anders as ’n poging om die proses te dokumenteer en moontlik daardeur ander boere te help nie.
Hier is ons storie tot dusver: Ons ou plasie is maar klein, net so oor die 130 ha geleë langs die Grootdraai-dam buitekant Standerton. Dit is ’n welbekende feit dat Hoeveld-plase aansienlik groter moet wees om winsgewend geboer te kan word. So wat nou gemaak? Ek wil nie vir altyd in die buiteland werk nie en het n ander bron van inkomste nodig. Ons wil nie nog grond aanskaf nie want daar is baie onsekerheid oor wat die Regering met grond-eienaarskap gaan maak in die toekoms. Daar was vir ons net een logiese uitweg en dit was om ons grond optimal te benut en “vertikaal” te begin boer.
Dit vat nie veel verbeeldingskrag om te besef dat die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbou gaan afhang van hoe effektief elke vierkante meter van grond benut word. Mens hoor gereeld van groot plase wat deur die Regering uitgekoop en opgedeel word en kan die mense aan wie dit gegee word nie die mas opkom nie. Ek dink die werk wat Yolandi nou op Kromdraai doen, kan dalk ’n waardevolle bydrae lewer om te verseker dat meer van die pogings in suksesverhale omskryf word. Ons het dus besluit om 100 ha boomlusern aan te plant en te kyk of ons met dit meer drakrag vir ons grond kan ontwikkel. Die plan is om met beeste en boerbokke te boer waneer ons die maksimum drakrag gevestig het.
Klik op die PDF-aanhangsel hieronder om die verheel te lees.