Chardonnay word wêreldwyd as die top-witwynkultivar én 'n besonder veelsydige wyn saam met kos beskou. Ook in Suid-Afrika is Chardonnay besig om veld te wen namate die plaaslike produsente vorder na die D van dié kultivar: Sy diversiteit, of die verskillende wynstyle waarin dit gemaak kan word.
Aanvanklik het plaaslike wynmakers geneig om Chardonnay te swaar te hout. Die voorsitter van die Chardonnay-forum, mnr. Philip Jonker, verwys na die reaksie wat die verbruiker daarop getoon het as dié kultivar se ABC-fase (oftewel "alles behalwe Chardonnay").
Die afgelope tyd het dit egter duidelik geword dat Chardonnay-produsente 'n nuwe blaadjie omgeslaan het. 'n Uitvloeisel daarvan is die navorsing wat nou vir die hele wynbedryf gedoen word om die diversiteit van Chardonnay te bevorder.
Dié inisiatief het beslag gekry in die Robertson-wynvallei waar 'n studiegroep van entoesiastiese wynmakers en wingerdboukundiges die afgelope twee jaar proeë gehou en navorsing gedoen het om die verskeidenheid van Chardonnaystyle in hul streek te ondersoek.
Soos verwag, lewer die uiteenlopende liggings van die wingerde in dié vallei verskeie Chardonnaystyle. Die ses style wat uitgeken is, word grootliks toegeskryf aan die vallei se uiteenlopende terroir (hellings, grondsoorte en mikroklimaat).
Een van die eerste uitdagings wat die Chardonnay-forum vir homself gestel het, was om vas te stel watter faktore in die wingerd en kelder tot elke wynstyl aanleiding gee.
Faktore wat in die wingerd in ag geneem is, was die grondsoort, kloon, helling, lowerbestuur, korrelgrootte, druiwegeur, ouderdom van die wingerd, ryrigting en die druiwerypheid by pars.
In die kelder is faktore soos die druiwetemperatuur, dopkontak, fermentasietemperatuur, gisrasse, moerkontak en houtveroudering in ag geneem.
Dit is duidelik dat hoewel die hantering in die kelder ook 'n invloed het, die terroir en wingerdbestuur 'n groter uitwerking op die uiteindelike wynstyl het. In die Robertson-wynvallei is gevind dat kalkryke grond die grootste invloed het om Chardonnay-wyne met 'n hoë intensititeit van ryp vruggeure, rykheid en kompleksiteit te lewer.
Die volgende ses style is uitgeken:
* Styl A verteenwoordig 'n groep ligtestylwyne wat gewoonlik ook lig van kleur is. Dit bevat geure van vars groen appel, lemmetjies en groen peer.
* Styl B verteenwoordig sagte, romerige Chardonnay's met geure van piesang, pomelo, vla, vanilla en botterneut.
* Chardonnay's in 'n vars, elegante sitrusstyl (met geure van suurlemoensap en skil) behoort tot styl C.
* Styl D verteenwoordig die vol, ryp wyne met tropiese geure van spanspek, ryp, geel appels en ryp piesang.
* Die ryk groep Chardonnay's met 'n hoë intensiteit en komplekse kombinasie van sitrus en tropiese geure behoort tot styl E. Hierdie wyne het gewoonlik lemoen- en suurlemoengeure in kombinasie met meer tropiese pynappel-, grenadella- en geelperskegeure.
* Styl F is 'n groep wyne waar die eikehout die vrugeienskappe van die wyn oorskadu en die rooster-, koffie-, toffie-, spesery- en rokerige geure prominent is.
Mnr. Jonker het daarop gewys dat dit nie noodwendig beteken dat Chardonnay net in een van dié ses style gemaak kan word nie. Dus wil die Chardonnay-forum hierdie hele oefening 'n stap verder neem deur die ganse wynbedryf se Chardonnay-style te probeer klassifiseer.
"Miskien bestaan daar nog 'n paar Chardonnay-style in ander streke. Miskien neig Chardonnay's van 'n spesifieke streek natuurlik na 'n spesifieke styl. Die vraag ontstaan byvoorbeeld of Chardonnay-klone aanleiding tot sekere style kan gee, ongeag die terroir. 'n Kalkryke terroir speel dalk 'n sleutelrol in die ontwikkeling van sekere style. Ons moet eenvoudig verder gaan om in die dieptes van Chardonnay te delf."
Die forum se volgende stap was om die Chardonnay-proepaneel van die nasionale jongwynskou te vra om dié wyne uit te ken wat in die ses genoemde wynstyle val. Die paneel het amper 60 Chardonnay's van die afgelope oesjaar gekategoriseer. Hy het erkenning aan goeie gehalte oor die hele spektrum van style gegee. Dié proe het die geloofwaardigheid van die ses style bevestig.
Die uitslag van die proe het die gedagte van 'n Chardonnay-simposium laat posvat. Daarvoor het die Chardonnay-forum uitstekende samewerking van die hele wynbedryf gekry. Chardonnay-monsters is saam met elke wyn se wingerd- en wynkundige inligting aan die forumlede verskaf.
Volgens mnr. Jonker was die onlangse simposium slegs die begin van verdere navorsing. "Ons ondersoek nog slegs die oppervlak van Chardonnay. Ons gaan elke wyn se wingerd- en wynboukundige inligting bestudeer om uit te vind wat die oorsprong en geskiedenis van elke styl op 'n bedryfswye grondslag is."
Volgens 'n bestuurslid van die forum, mnr. Francois Viljoen, behoort wingerdboukundiges en wynmakers wat ernstig is oor Chardonnay, die verlangde inligting vir die volgende drie tot vyf jaar aan die navorsers te stuur. "Dan sal 'n mens goeie afleidings kan begin maak."
Mnr. Danie de Wet, nog 'n bestuurslid van die forum, wys daarop dat Chardonnay minder wispelturig as Sauvignon blanc is. "As 'n mens weet 'n sekere grondsoort en sekere klone gee jou 'n sekere tipe wyn, dan kan jy jou etiket daarvolgens beplan pleks van om maar net wyn te maak, dit in die kelder te proe en dan eers jou etiket te beplan."
Volgens mnr. Viljoen wil die navorsers riglyne vir die produsente daarstel. "Uit die evaluering van 'n wingerdblok moet dit duidelik blyk vir watter wynstyl dié druiwe geskik sal wees. Van die vrae is: Watter kloon is die geskikste vir 'n sekere streek? In watter rigting moet die boer sy wingerde plant? Moet dit meer of minder aan die son blootgestel word en watter besproeiingsbenadering moet gevolg word?
Mnr. De Wet reken die druiwe van wingerde wat nie meer kommersieel goed is nie (wat dus nie meer top-wyne lewer nie), moet eerder op 22°Balling gepars word. As die druiwe van sulke wingerde te ryp word, verloor dit van hul sure. Mnr. De Wet wys daarop dat 'n mens die struktuur van 'n wyn met spesifieke geure bou. "As jy 'n neutsmaak by 'n swakker wyn kan inbou, kry jy 'n eleganter wyn met 'n langer nasmaak."
Op die Chardonnay-forum se bestuur dien verteenwoordigers van verskeie wynstreke wat oor wingerd- sowel as wynboukundige agtergrond beskik. Benewens mnr. Jonker, bestaan die bestuur uit mnre. Duimpie Bayly, Bowen Botha, Willie Burger, Danie de Wet, Sterik de Wet, Jacques du Toit, Francois Naudé, Nico Spreeth, Eugene van Zyl en Francois Viljoen.
Vir meer inligting kan mnr. Jonker geskakel word by tel. 023 616 2141, sel 083 308 6069, of faks 023 616 2460, of e-pos: philip @weltevrede.com
1
November 2002