
Suid-Afrika se vrugtemark het ’n hupstoot gekry met die vestiging van ’n kantoor vir Colors Fruit en die Farmsecure Groep in Japan.
Die maatskappy sê die toevoeging van die nuwe bemarkingskantoor is ’n belangrike stap om sy invloed in Japan, Suid-Korea en die Verre Ooste uit te brei.
Mnr. Riaan van Wyk, uitvoerende hoof van Colors Fruit, sê Suid-Afrikaanse sitrus is ’n relatief nuwe, maar groeiende mark in Suid-Korea. Luidens ’n verklaring sal die nuwe kantoor die maatskappy in staat stel om ook geleenthede in dié mark te benut.
“Colors Fruit (Verre Ooste) word deel van ons internasionale bemarkingsnetwerk wat kantore in Kanada, die Verenigde Koninkryk en Europa insluit. Ons is opgewonde oor die bemarkingsgeleenthede wat deur heeltydse verteenwoordiging deur ons eie kantoor in die Verre Ooste vir ons sal oopgaan,” verduidelik Van Wyk.
’n Bekende
Volgens Van Wyk sal mnr. Aki Yamada, ’n bekende in Japanese varsproduktebemarking, die hoof van die kantoor in die Verre Ooste wees.
Yamada was voorheen verbonde aan bemarkingsorganisasies soos Sunkist en Royal. Hy was tot onlangs ook deel van Goldspan, Capespan se bemarkingskantoor in Japan. Yamada verwag dat die teenwoordigheid van die maatskappy in die Verre Ooste tot ’n toename in vraag vir Suid-Afrikaanse pomelos sal lei.
“Amper 30% van Suid-Afrika se pomelo’s word reeds in Japan verkoop. Verbruikers is gewoond aan Suid-Afrikaanse pomelo’s en sien elke jaar uit na die begin van die seisoen.”
Verder voorspel Yamada dat Japan sy grense al meer sal oopstel vir Suid-Afrikaanse vrugte sodat verbruikers se keuses kan vermeerder.
Die weerstoestande wat gedurende die winter en lente in Japan geheers het, het tot laer produksie gelei wat geleenthede vir invoer verbeter. Van Wyk verwag ook dat Suid-Afrika geleenthede sal kry om meer lemoene en suurlemoene in die Verre Ooste te verkoop.