Die Wyn- en Spiritualieëraad se besluit dat die naam Cape riesling gebruik kan word om crouchen blanc te beskryf, neem die werklikhede van wêreldmarkte in ag, luidens 'n persverklaring van Distell.
Daar is produsente wat voel dat die term riesling net vir Ryn- of weisser riesling gebruik behoort te word aangesien dít ampelografies korrek sou wees. Ampelografie is die wetenskap van die identifikasie en beskrywing van druifkultivars.
"Die gedagte dat die gebruik van die naam riesling net tot weisser of Ryn-riesling beperk moet word, is miskien goed bedoel, maar dit veroorsaak meer probleme as wat dit oplos. Daar is groter implikasies as net die naam riesling. Mense wat betoog dat Cape riesling nie toegelaat moet word nie, probeer 'n onderskeid tref tussen die riesling wat as weisser of Ryn-riesling bekend is, en die druif wat plaaslik as Cape of Suid-Afrikaanse riesling bekend staan, maar wat eintlik 'n crouchen blanc is.
As ons dié poging tot sy logiese uiteinde deurvoer sal dit boere oral dwing om stewig gevestigde en baie bekende name te laat vaar ten gunste van minder bekende terme wat geen ingang gevind het nie, behalwe by 'n klompie mense in die binnekringe van die bedryf," sê mnr. Ernst le Roux, 'n wingerdboukundige.
Die aandrang dat riesling net vir weisser of Ryn-riesling gebruik word, sal vereis dat dieselfde met ander name gedoen moet word. Die naam muskadel sal, byvoorbeeld, laat vaar moet word omdat dit nie 'n genetiese verband met die Franse muscadelle het nie. "Nou moet 'n mens vra waar jy die streep trek. Hoe kan 'n mens bepaal watter gewaande wanbenamings behou moet word en watter die trekpas moet kry," vra Le Roux.
Hy voeg by dat dit wêreldwyd bewys is dat daar 'n verband tussen die "stroping van die geheimsinnigheid" rakende die name van wyne en beter verkope is. "Die naam crouchen blanc is nie bekend in Suid-Afrika nie en produsente sal dus verkies om 'n verband met riesling te hou."
6 November 2008