
Sy een hand is doenig met die drukker waar rolle etikette uitgespoeg word en in die ander hand maak hy somme met sy slimfoon. Mnr. Henk van Zyl van die plaas, Spioenkop, by Leipoldtville, is Aartappels SA se Aartappelboer van die Jaar en hy sal mense wat sukkel om te glo dat mans meer as een ding op ’n slag kan doen, se oë laat oopgaan.
Hy is die eienaar van ’n Sandveldse onderneming wat sowat 6 000 ton aartappels produseer en werk aan 65 mense verskaf, maar Van Zyl is nie ’n boer wat in die kantoor vasgekeer word nie. Hierdie liefde vir die pláás-deel van boerdery het sy ouers al van jongs af in Henk raakgesien.
“Ek is baie lief vir aartappels. Ek het grootgeword daarmee. Ons is die vierde geslag op die plaas, en ek is grootgemaak om met aartappels te boer. Van kleins af al wou ek so gou moontlik op die trekkers kom,” vertel hy.
'n Netjiese boer
En nou boer hy net so netjies soos sy pa, Willie, vertel sy trotse ma, Martie. Henk was net 23 toe sy pa verongeluk het en hy die leisels op die plaas moes oorneem. “Die planter loop met ’n GPS om die lande reg te kry en uit te meet. Henk hou van ’n baie netjiese plaas. Sy pa was so, en hy is ook so,” vertel Martie.
Hy glo sy toewyding aan die boerdery is die geheime bestanddeel wat van hom ’n topboer maak. Dít en sy aptyt vir risiko, sê die jong man wat droom van ’n helikopterlisensie. “Ek is amper vreesloos in dit wat ek doen. Ek is bereid om risiko’s te loop.”
Vra jy hom uit na die risiko’s, sê hy een van die groter uitdagings was om kompaksie met minimumbewerking te verminder. Daarvoor het hy ’n vierryplanter en ’n seswieltrekker wat wydsbeen oor die plantrye loop, gebruik. Van Zyl plant aartappels op 140 ha en beskou homself in die eerste plek as ’n moerkweker. Sowat 2 000 ton moere word vir verwerking- en tafelproduksie aangewend.
Ongeveer ’n derde daarvan plant hy self, en ’n deel daarvan word aan boere in die Sandveld verkoop. Die res word na die Oos-Vrystaat en elders versprei. Hy is alombekend as een van die beste moerkwekers in die Sandveld.
Inspeksies
“Alles word onder die Aartappelsertifiseringsdiens se sertifiseringskema ingeskryf. Die moere word twee keer in die groeityd geïnspekteer. Wanneer dit ryp is en voor dit virusse kry, word die plante doodgespuit en dan drie weke later geoes.
"Dit word so gou moontlik na die pakkamer gebring, waar die moere, tafel- en verwerkingsaartappels geskei word. Die moere word in los maat vir sowat vier weke in houtkratte (500 kg) in die koelkamers, net 30 m van die moersorteerder, opgeberg.
‘‘Intussen word ’n virusmonster geneem en 28 dae later, wanneer ons die uitslae kry,word die moere in sakke van 25 kg elk gebêre. Ons kry die plantdatums by die kopers en kry die moere plantgereed sodat die boere sommer van die vragmotor af kan plant,” vertel Henk vanuit sy kantoor wat op die pakhuis uitkyk.
Detail
Daar word baie aandag aan detail gegee, en die moere word onder meer twee keer op die moersorteerder geklas. Maar nie voor die bakterie- en verwelkuitslae bekend is nie. “Ons wil nie siektes versprei nie,” sê hy.
Só ernstig is hy daaroor dat hy kort-kort op die plaas stilhou om aartappels op te tel wat van ’n wa afgeval het. Die koelkamers word ook twee keer per jaar goed skoongemaak om enige besmetting te voorkom. Nóg ’n derde van sy opbrengs word aan die verwerkingsmark (Lamberts Bay Foods en Simba) gelewer.
Die kultivars wat hy daarvoor plant, is Van der Plank, FL2108 en Hermes. Sowat ’n kwart van die aartappels wat na die tafelmark gaan, word na Namibië en Angola uitgevoer. Die helfte word aan plaaslike supermarkte bemark en die res gaan na die varsproduktemark in Kaapstad. BP1, Harmony, Velhar en Avalanche is sy voorkeurkultivars vir hierdie mark.
Uitdagings
Een van die uitdagings waarmee hy in die Sandveld te doen het, is die strawwe suidewind wat die gevaar inhou om hul landerye letterlik weg te waai. Hy volg ’n stelsel van min bewerking om dit teë te werk en boonop die koste van water en elektrisiteit in toom te hou.
“Ons mag nie meer nuwe lande maak nie, so ons moet ou lande gebruik. Ek gebruik ’n berokingsmiddel om ’n steriele medium te bewerkstellig en daarna plaas ek weer mikro-organismes soos trigoderma en basillus in die grond.”
Hy plant sowat 180 sakkies (25 kg) elk per ha. Dié hoë plantdigtheid verseker die kleiner knolle wat ideaal is vir moerproduksie. ’n “Streng en swaar” kunsmis- en spuitstofprogram word gevolg, maar alles word in balans toegedien.
Mnr. Henk van Zyl saam met sy vrou, Helisna, ma, Martie, en twee dogtertjies, Jana (regs) en Marli. Foto: LUCILLE BOTHA
Baie water
“Die plaas lê by die laagste punt van die watertafel en ek sit met water met ’n hoë soutinhoud. Dit veroorsaak dat die plante korter groei en lei tot laer opbrengste. My aartappels kry baie water om die kunsmis, natriumchloried en yster uit die grond te was en dan word weer kos gegee.
"As ek dit nie doen nie, gaan die natriumchloried in die grond akkumuleer en toksies raak,” sê hy. Hy dien 300 kg tot 350 kg stikstof, 170 kg fosfate en 500 kg tot 600 kg kalium toe. Dit is aansienlik meer as wat aartappelboere in ander streke van die land toedien.
“My grond is egter 100 keer swakker en my water ’n 1 000 keer swakker.” Van Zyl gebruik slegs chloorvrye kunsmis. Spoorelemente word weekliks toegedien. Sandveld-boere is maar alte bewus van die impak wat hul bedrywighede op die omgewing het, en die afgelope paar jaar word beste praktyke vir aartappelproduksie en biodiversiteit vir die gebied voorgeskryf.
Omgewingsbewus
Hy bring ook sy kant om meer vriendelik teenoor die natuur te boer. Só hersirkuleer hy byvoorbeeld die water waarmee die aartappels gewas word. Hy plant 50 ha koring as wisselbougewas en hy huur 70 ha grond by.
“Ons besproei net in die nag. Dit voorkom verdamping en dan kan ons die doeltreffendheid van die besproeiingstelsels (spilpunte) maksimaal benut.” Wanneer hy oor sy boerdery gesels, raak Van Zyl se blik amper net so sag as wanneer hy met sy dogtertjies, Jana (4) en Marli ( 18 maande), speel. Martie meen dit is juis sy liefde vir die boerdery wat hom so suksesvol maak.
“Ek dink een van die redes waarom hy as Aartappelboer van die Jaar aangewys is, is omdat hy so met hart en siel in die ding is en so hard werk,” sê sy. Dit is dus geen wonder dat hy sukkel om met vakansie te gaan nie. Wanneer sy gesin op Strandfontein uitspan, ry hy byna elke dag plaas toe.
Hy sien baie uit na die reis na Switserland en Frankryk wat hy as prys vir die Aartappelboer van die Jaar gewen het. Die reis sal nie net vir hom ’n eerste ervaring wees nie, maar ook die eerste keer dat hy so lank van sy geliefde plaas weg is.
Kyk hier na 'n onderhoud met Van Zyl op sy plaas.
15 Desember 2011