So sê mnr. Dirk Bosman, Distell se hoof-wingerdboukundige, wat aan die hoof van dié projek staan.
In oorleg met sy sakevennoot Tanzania Distilleries Limited (TDL) is Distell se werksaamhede toegespits op wingerde wat reeds in produksie is. Die maatskappy, wat 'n belang van 35% in TDL besit, skenk ook 'n groot hoeveelheid stokkies van die kultivar villard blanc wat by Ernita, sy kwekery naby Wellington, vermeerder is. Wanneer die nuwe stokke in drag kom, sal hulle bykomende, broodnodige druiwe vir die maak van brandewyn en gewilde wyne vir die Tanzaniese mark verskaf.
TDL, 'n belangrike deelnemer aan die wyn- en spiritualieëmark in Tanzanië, bedryf twee kelders met 'n gesamentlike vermoë van 800 ton per jaar. Weens dié beperkte produksie word baie van sy wyn tans van Distell in Suid-Afrika ingevoer.
"Die doel met die projek is om die plaaslike inhoud van TDL se wyn- en brandewynreekse te verhoog, vaardighede oor te dra, bekwaamhede uit te bou en werkgeleenthede te skep in 'n andersins gemarginaliseerde landelike gebied," het Bosman gesê. "Wanneer ons hierdie opvoedkundige model en sy uitvoering verfyn het, sal ons dit ook kan aanwend in ander lande suid van die Sahara waar daar 'n wynmark bestaan waarby Distell betrokke is." Distell besit The Winemasters in Kenia en hou ook 'n belang van 31% in African Distillers in Zimbabwe.
Bosman lei tans Tanzaniese boere en voorligtingsbeamptes op in wingerdboukunde en basiese wingerdbestuur om die gehalte en opbrengs van die plaaslike wingerde te verhoog. Hy het ook begin met proefaanplantings by die Makutopora-navorsings- en -opleidingsentrum naby Dodoma.
Sowat 150 ha wingerde
Die meeste van die land se sowat 150 ha wingerde in en om Dodoma is beplant met die wit en rooi weergawes van die makutopora-druifsoort. Daar is ook klein hoeveelhede chenin blanc, shiraz en cabernet sauvignon.
"Weens armoede en die gebrek aan toegang tot tegnologie word alles in die wingerde met die hand gedoen. Daar is net 'n paar trekkers sodat ook die grondvoorbereiding op handearbeid berus. Weens die gebrek aan besproeiingswater is feitlik almal droëlandwingerde. Feitlik geen chemikalieë word gebruik nie. Dit alles verskaf 'n stewige grondslag waarop ons kan bou in ons opleiding van boere om hul opbrengs te verhoog sonder nadeel vir die omgewing.
" 'n Belangrike deel van ons taak is om die betrokkenes geskikte snoei- en opleidingsmetodes te leer sodat hulle net een keer 'n jaar - in Augustus/September - 'n oes kry, maar wat gehalte en opbrengs betref, veel beter is as in die verlede is. Die uitstekende resultate wat ons met ons aanvanklike proefaanplantings behaal het, het die boere hier geweldig bemoedig en hulle is gretig om die prosesse te volg wat ons aanbeveel.
"Ons is daarvan oortuig dat met verdere aanplantings en verbeterde boerderymetodes, wynboerdery 'n betekenisvolle bydrae tot Tanzanië se landbou-BBP sal maak."
8 Junie 2009