
Talle draakvrugboere het vanjaar ’n duur les geleer toe hulle ’n ganse blomspoeling verloor het weens ontydige reën.
Mnr. CT van der Merwe, uitvoerende hoof van AL3 en voorsitter van die draakvrugvereniging, meen die verlies het minstens 8 t/ha beloop. “Die blomme van draakvrugte kan slegs op een dag bestuif word. Ons is goed voorberei met byekorwe wat op die regte tyd op die regte plekke is. Met een van ons blomspoelings het dit egter gereën, die bye het nie gewerk nie en ons het die ganse spoeling se oes verloor.”
Daar is tans nie veel wat daaraan gedoen kan word nie, maar dit is deel van die kultivar-evaluasieproses waarmee die vereniging tans besig is. “Ons soek kultivars wat soet is, goeie drag gee en eweredige produksie gee van November tot Mei. Dit sal ons in staat stel om die plaaslike én die uitvoermark op kritieke tye te voorsien.
“Verbruiker-opvoeding is ook ’n groot hindernis. Die mense wat tans bewus is van draakvrugte, ken meestal die smaaklose kultivars.” Die oogmerk is om hierdie neiging om te keer deur goeie, smaakvolle kultivars te ontwikkel. “Ek meen ons sal teen 2032 ’n gesonde, winsgewende bedryf hê. Om ’n bedryf van nuuts af op te bou, is opwindend.”