Dit beïnvloed egter ook die vrugsuikers en -grootte van pere, blyk uit voorlopige bevindinge van ’n aaneenlopende plaaslike studie. Sulke nette is in die vroeë 2000’s deur die Australiese vrugteboer mnr. Michael Cunial ontwikkel as ’n teenvoeter vir haelskade.
Dit kos sowat ’n derde van vastestruktuurnette en is maklik om te drapeer of te verwyder. Afgesien van hael word dit ook teen sonbrand en voëlskade gebruik. “Die bedryf doen tans proewe met drapeernette by pere en pruime,” het mnr. Daniël Viljoen, senior navorser by ExperiCo, tydens die internasionale peersimposium op Stellenbosch gesê.
Hy lei ’n projek, nou in die tweede jaar, om die waarde van drapeernette te bepaal. Dit volg nadat produsente opgelet het dat Packham’s Triumph-pere onder die nette neig om ferm te bly. Die gehalte en opbrengs van dié vrugte wat onder en sonder dié nette geproduseer word, word getoets.