
Vanjaar se druiwe-oes lyk goed ondanks die wisselvallige klimaatstoestande wat sedert einde verlede jaar voorkom, sê Distell.
Luidens ’n mediaverklaring het die opbrengs oor die algemeen met 5% gestyg. Mnr. Callie van Niekerk, hoof van Distell se wynmaakafdeling, sê dié algemene syfer is egter nie ’n werklike weerspieëling van die invloed van die hittegolf in Januarie en die watertekorte op sommige plekke nie.
“Dié gemiddelde vertel egter nie die volle verhaal van oeste in sommige droëlandwingerde wat weens te min reën verlore gegaan het nie. Daarenteen het die opbrengs in sommige gebiede met toegang tot aanvullende besproeiing met 10% tot 15% teenoor verlede jaar gestyg,” aldus Van Niekerk.
Aroma en kleur
Na verwagting sal die druiwe van dié oes aromatiese wit wyne en rooi wyne met ’n intense kleur en van ’n uitstekende gehalte oplewer. Mnr. Erhard Wolf, hoof van Distell se druiwe- en wynaankope, sê die wisseling in temperature het uiteindelik ’n goeie invloed op die druiwe gehad.
Hy sê die vroeë hitte wat deur koeler toestande gevolg is, het die rypwording van die rooi kultivars so beïnvloed dat groen smake uitgeskakel word. Die korrels was kleiner as gewoonlik, maar die dop-tot-vrugverhouding was uitstekend.
Die beste rooi druiwe vir dié oes is na verwagting Shiraz, maar Cabernet Sauvignon, Pinotage en Merlot-wingerde het ook goeie gehalte gelewer.
“Ons is baie opgewonde oor al die jong wit wyne, en die aromatiese kultivars soos Pinot grigio, Riesling en Gewürtztraminer vertoon uitstekend. Die seisoen was ook baie goed vir die muskaatsoorte, waarna daar tans ’n sterk internasionale vraag bestaan. Ons verwag vanjaar uitnemende edellaatoes- en spesiale laatoeswyne,” vertel Van Niekerk.
Watervoorrade
Wolf sê hoewel lae waterreserwes dié jaar ’n probleem was, het hulle die tegnologie om die voginhoud van grond akkuraat te monitor en besproeiing dienooreenkomstig aan te pas.
Verder sê hy het goeie loofbestuur, die plant van dekgewasse en strategiese grondbedekking die invloed van die droë toestande op sommige droëlandwingerde teengewerk.
11 April 2012