
Druiweprodusente gaan beter bediening kry wanneer twee bedrywe in die Noord-Kaap kragte saamspan om volhoubaarheid en winsgewendheid van beide die wyn- en rosynebedrywe in die Benede Oranjeriviergebied te bevorder.
Dié bedrywe verwerk jaarliks bykans dieselfde hoeveelheid druiwe uit die gebied. Hoewel die rosynbedryf uitsluitlik op pitlose druiwe ingestel is, verwerk die Oranjerivier Wynkelders (OWK) die volle spektrum van druiwe in ‘n reeks wyne en druiwesap.
‘n Groot verskeidenheid bemarkingsmoontlikhede is aan produsente gebied. Die betrokke produsente is in die oorweldigende meerderheid van gevalle lede van beide bedrywe en voorsien ook druiwe aan beide bedrywe. Die verbouingsvereistes en behoeftes om goeie gehalte druiwe te produseer, bly ook grootliks dieselfde. Goeie gehalte om doeltreffend mee te ding in al die markte is ook die strewe van beide.
Onvermydelike samesnoering
Dit was onvermydelik dat bedryfsleiers koppe bymekaar moes sit met so baie in gemeen. Die samewerkingsooreenkoms sal duplisering van skaars mannekrag, sowel as onnodige koste voorkom. Fondse wat Droëvrugte Tegniese Dienste sou spandeer, sal met dié van Oranjerivier Wynkelders verpoel vir die uitbreiding van mannekrag vir meer doeltreffende bediening van produsente in die gebied.
Die diens sal steeds deur die baie bekwame leierskorps van OWK bestuur word. Dit sal ook dan nie nodig wees om ‘n nuwe kantoor te vestig met ‘n totaal nuwe infrastruktuur nie.
Alle druiweprodusente in die Benede Oranjeriviergebied sal deur hierdie samewerkingsaksie op die mees koste doeltreffende manier toegang kry tot dieselfde nuwe tegnologie en advies. Navorsing en evaluering op rosyne in die gebied sal ook deurgaans goeie tegniese kundigheid beskikbaar hê om die beste moontlike resultate te lewer.
1 September 2010