
Ses internasionale beoordeelaars proe dié week saam met ’n groep van sowat 100 beoordeelaars die 1 744 wyne en brandewyne wat vir vanjaar se Veritas-kompetsie ingeskryf is. Mnr. Hwee Peng Lim, ’n gesertifiseerde wynspesialis van Singapoer, vorm deel van dié uitgelese groep.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) sê Lim, ’n wyn-en-spiritualië-beoordelaar, het reeds diep spore getrap as joernalis en spreker in die wêreld se voorste wynlande. Hy is onlangs aangewys as die mees dinamiese wynopleier in Asië.
Lim was in die geselskap van onder andere mnr. Thomas Lüber van Duitsland, die hoofaankoper van plaaslike wyne vir WIV Wein International AG, en mnr. Richard Rowe, tans hoofwynmaker by KWV. Luidens ’n verklaring vind die beoordeling by die Nederburg-veilingskompleks plaas.
Gesag
Die insluiting van dié beoordeelaars dra tot die gesaghebbendheid van die kompetsie by, aldus mnr. Charles Hopkins, voorsitter van die SANWSV. “Plaaslike en internasionale wyn- en brandewynaankopers hou die Veritas-uitslae met arendsoë dop omdat die streng beoordelingstandaarde deur spesialis-proepanele betroubare uitslae voortbring, wat dien as ’n barometer vir gehalte.”
Mnre. Denis Lahouratate, keldermeester by die Franse House of Bisquit Cognac, en Dave Hughes, een van Suid-Afrika se voorste wyn-en-spiritualieëkenners, neem die leiding in die beoordeling van dié jaar se brandewyninskrywings. Hughes sal ook die panele vir verskeie ander wynklasse lei.
Soos vorige jare, is die meeste inskrywings ontvang vir Sauvignon Blanc-lyne, altesame 211. Shiraz het die naasmeeste inskrywings met 181 wyne. Altesame 33 standaard-, oesjaar- en potketel-brandewyne is ingeskryf om onder die vergrootglas geplaas te word.
Die wenners van Veritas 2012 word op 6 Oktober vanjaar by die Kaapse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) aangekondig.