
Binne 10 jaar gaan daar nie meer prysverskille wees tussen produksiegebiede van vroeë en laat tafeldruiwe nie.
Daar gaan bloot ’n “wêreldprys” vir tafeldruiwe wees – ’n plat lyn op ’n grafiek, het mnr. Gawie van der Merwe van Capespan en lid van die SA Wingerd-en Wynvereniging (SAWWV) naby Wellington gesê.
Van der Merwe het op ’n simposium van die SAWWV by die Nelson’s Creek-wynlandgoed oor die huidige situasie en toekoms van tafeldruiwe gepraat. Hy sê heelwat produksiegebiede van tafeldruiwe in Suid-Afrika wat vroeër heelwat uitgevoer het, se uitvoer styg nie.
Net die uitvoer van enkele streke, waaronder Suid-Namibië en Clanwilliam-Trawal, groei steeds. Die meeste ander streke, waaronder die hele Boland-wynproduksiegebied, se uitvoer bly basies dieselfde.
Die redes vir die algemene agteruitgang in uitvoer is omdat winsmarges al kleiner word, dat by ’n plafon gekom is met produksie per hektaar en dat produksiekoste met gemiddeld 9% per jaar groei.
Internasionale mededingers
Suid-Afrika ding ook mee met ander lande in die Suidelike Halfrond, soos Chili, Brasilië en Peru waar produksiekoste aansienlik laer is. Selfs Argentinië kan sy druiwe goedkoper op markte plaas weens sy wisselkoersverhouding met groot geldeenhede.
China se produksie het van minder as 100 miljoen uitvoerkartonhouers in 1990 gestyg tot meer as 900 miljoen uitvoerkartonhouers tans. Ook Indië en Egipte se uitvoer styg. Peru voer maar die afgelope 12 jaar lank tafeldruiwe uit en is besig om vinnig te groei op oorsese markte, sê Van der Merwe.
Die ou tafeldruifproduksielande van Europa groei nie meer nie – tewens, party lande, soos Frankryk en Spanje, toon ’n daling in produksie. Diegene wat gaan oorleef in die toekoms, is die produsente met die minste risiko’s, met die laagste produksiekoste, wat die maklikste kultivars produseer, dié met die hoogste opbrengs per hektaar, en diegene met die beste druiwe.
Daarom val die klem al meer op presisieboerdery, want daar is nie in ’n mededingende wêreld meer enige plek vir foute nie, het Van der Merwe gewaarsku.
7 September 2010