
Volgens Tru-Cape se bestuurder van gehalteversekering, mnr. Henk Griessel, en mnr. Buks Nel Tru-Cape se kenner van variëteite, het Jan Van Riebeeck die volgende historiese inskrywing in sy dagboek op 17 April 1662 gemaak: "Swaar motreën in die oggend en 'n sterk noordwestelike wind waai vanaf die see. Vandag is die eerste twee ryp Hollandse appels gepluk in die Kompanjie se kwekery-tuin. Hulle kom van twee klein boompies wat nie meer as 1,5 meter hoog is nie. Hierdie soort appels is bekend as 'n Wijnappel."
Griessel sê die eerste appels het tussen 165g en 180g geweeg.
"Dit was 'n historiese dag en datum wat deur alle Suid-Afrikaanse appelprodusente onthou behoort te word. Ons hoop ons herplant van sommige van die ouer variëteite in Tru-Cape se Erfenis-boord op die Oak Valley-landgoed in Grabouw. Dit sal in die toekoms as van groot waarde beskou word."
* Tru-Cape bemark elke jaar 1 376 470 875 appels en pere.