
Luidens ’n verklaring deur Transnet-haweterminale (TPT) is die huidige uitvoervolumes vir die tweede week agtereenvolgens 32% meer as die weeklikse volumes. Om die bykomende uitvoervolumes te akkommodeer, word bykomende bedryfshulpbronne gedurende die hawe se nagskof beskikbaar gestel.
Altesaam 200 kragpunte vir verkoelde vraghouers is hierdie seisoen bygevoeg sodat 3 200 kragpunte beskikbaar is. Ter voorbereiding vir die nuwe seisoen is nog ’n hyskraan, wat vragte van die oewer op die skepe kan laai, sedert Oktober by die hawe in bedryf.
Me. Andiswa Dlanga, TPT se besturende direkteur van hawens in die Wes-Kaap, sê Transnet-inisiatiewe by die Kaapstadhawe sal verseker dat toerusting so vinnig moontlik in werking gestel word, produktiwiteit ’n hupstoot kry en dienslewering aan kliënte bevorder word.
Sy sê daar is volgehoue pogings om die logistiek by Kaapstadhawe se vraghouerterminaal te optimaliseer ten einde die sukses van die sagtevrugteseisoen te verseker.
Daar word verwag dat die bedryf se uitvoervolumes vanjaar met 5% sal toeneem. Verlede jaar is 80 000 twintigvoet-ekwivalente eenhede by die hawe se vraghouersterminaal hanteer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.