
Wynprodusente wat billike arbeidspraktyke aanvaar en toepas sal binnekort hul benadering met ’n seël op wynbottels en produkte kan aandui. ’n Lys van 26 wyne is onlangs deur die Vereniging vir Etiese Handel in die Wyn- en Landboubedryf (Wieta) bekend gemaak.
Luidens ’n verklaring sê Wines of South Africa (Wosa) dié seël is moontlik ’n eerste in sy soort in die wêreld. Die seël word eerder aan individuele wyne toegeken as aan wynmakerye. Die rede vir dié benadering is dat boere druiwe vir hul wyn van verskillende wingerde kry.
“Dit moet moontlik wees om voldoening oor die hele produksieketting te kan naspeur, en daarom word elke wyn wat voorgelê word, apart geoudit,” verduidelik me. Su Birch, hoof uitvoerende beampte van Wosa.
Die wyne
Altesame 10 wyne van Fairview is deel van die 26 geïdentifiseerde wyne. Agt van die wyne is deel van Distell se nuwe reeks wyne Place in the Sun, terwyl ses van die Robertson-wynmakery is. Nóg vier is van Tukulu, terwyl Durbanville Hills en Spier elk twee het. Van die produkte is ook by Fairtrade geakkrediteer.
Die lys van wyne sal op die Kaapse Wynskou uitgestal word en beskikbaar wees vir internasionale kopers en die media om te proe. “Wieta sal sy eie kraampie op hierdie handelsuitstalling hê wat van 25 tot 27 September in die Kaapse Internasionale Konvensiesentrum plaasvind,” lui die verklaring.
Die Wieta-kode is op die basiskode van die Internasionale Arbeidskonvensie se Etiese Handelsinisiatief gegrond en sluit ook Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing in. Dit verbied die gebruik van kinderarbeid, vereis dat indiensneming vryelik gekies moet word en dat alle werknemers die reg op ’n gesonde en veilige werkomgewing het.
Die bedryf wil graag hê dat alle boere teen 2015 ten opsigte van billike arbeidspraktyke geakkrediteer moet wees.