Wyle Anthonij Rupert, aan wie die plaas voor sy dood behoort het, het gedroom oor ’n Cap Classique-reeks vir L’Ormarins. Ná sy dood is sy notas daaroor ontdek en as wegspringplek gebruik om die kelder se reeks te skep.
Die Private Cuvée word gemaak van die tête du cuvée, oftewel die beste sap van die eerste sagte pars, van Chardonnay- en Pinot noir-druiwe wat op Altima, ’n plaas in die Anthonij Rupert Wyne-stal, groei.
Daarna is dit besonder lank – ses jaar om presies te wees – op gismoer verouder, voor dit dégorge (die verwydering van die dooie gisselle) en daarna vir nog ses maande in die bottel gelaat is.