Kies jy die kronkelpad tussen Scherpenheuwel en Robertson, wag ’n ongewone uitsig op jou wanneer jy oor die kop kom. In die dorre, semi-Karoo-agtige landskap is honderde hektaar tafeldruifblokke en sitrusboorde – alles onder net – tussen die rooi koppe gevestig.
Die hartklop van dit alles is ’n moderne kantoor-en-pakskuurkompleks. Dit is hier, op die plase Le Chasseur en Gorreeshoogte, waar mnr. Jan en me. Christie Rabie skouer aan die wiel sit om die bekende Oos-Kaapse sitrusboerdery Habata se Wes-Kaapse belange te vestig.
Christie is mnr. Hannes en me. Marié Joubert van Habata se dogter. “Ons het dikwels op direksievergaderings gepraat oor die Wes-Kaap as ’n geleentheid om Habata se risiko te versprei, want in daardie stadium was dit net sitrusboerdery in die Sondagsriviervallei. Alles was dus in een mandjie.