Die Swart Sigatoka-swam is vinnig besig om piesangaanplantings in Suid- en Sentraal-Amerika en in sekere dele van Afrika uit te wis en, só word beweer, kan dié gesogte vrug sonder wetenskaplike ingryping selfs binne tien jaar uitsterf in hierdie streke.
Dr. Emile Frison, president van die International Network for the Improvement of Banana and Plantain (INIBAP) wat in Frankryk gesetel is, sê in die jongste uitgawe van die New Scientist dat die Swart Sigatoka-swam baie moeilik is om te beheer. Chemiese bestryding en die inteling van weerstand lewer unieke probleme wat die Swart Sigatoka-swam 'n besonder moeilike kalant maak om doeltreffend te bestry, sê dr. Frison.
Mnr. Wikus Joubert, bestuurder van die Piesangkwekersvereniging van Suid-Afrika (PKVSA), sê die Swart Sigatoka-swam hou voorlopig weinig bedreiging in vir die plaaslike bedryf. Swart Sigatoka kom tans net voor in die tropiese verbouingsgebiede waar die hoë humiditeit, reënval en temperature uiters bevorderlik is vir siekte-ontwikkeling. Die klimaat in die subtropiese piesangverbouingsgebiede, soos Suid-Afrika, is nie juis gunstig vir die Swart Sigatoka-swam nie.
Nogtans word piesangplantasies in Suid-Afrika gereeld vir die voorkoms van Swart Sigatoka gemoniteer. In Afrika is die swam tot dusver nog nooit verder suid as Malawi aangeteken nie. Geel Sigatoka, 'n verwante maar meer skadelose swam, kom wel in plaaslike aanplantings voor waar dit maklik beheer word, sê mnr. Joubert.
Volgens dr. Altus Viljoen van die Forestry and Agricultural Biotechnology Institute (FABI) aan die Universiteit van Pretoria kom Swart Sigatoka nou wel nie in Suid-Afrika voor nie, maar bied Panamasiekte (Fusarium wilt) eiesoortige uitdagings aan plaaslike piesangprodusente en -navorsers. Kommer oor Panamasiekte is ook in dieselfde uitgawe van die New Scientist uitgespreek.
Ras 4 van die Panamasiekte-swamme wat in Suid-Afrika voorkom, bedreig glo veral die wêreld se belangrikste uitvoerpiesang, naamlik die Cavendish-kultivar. Die Cavendish-kultivar het sedert die 1960's die Gros Michel-uitvoerpiesang vervang wat destyds deur Ras 1 van die Panama-swam in Sentraal-Amerika uitgewis is.
Hoewel die Cavendish-kultivar teen Ras 1 bestand is, is dit hoogs vatbaar vir Ras 4.
Dr. Viljoen sê in die tropiese verbouingsgebiede word Cavendish-piesangs ook deur Swart Sigatoka aangeval en daarvoor moet produsente tot 40 keer per jaar met baie duur swamdoders spuit. Hierdie chemiese bestryding verteenwoordig tot soveel as 'n kwart van die totale produksiekoste.
Anders as Swart Sigatoka wat die blare aanval, word Panamasiekte Ras 4 deur 'n swam in die grond oorgedra en val dit die wortelstelsels aan. Dit is dus onmoontlik om dit, soos in die geval van Swart Sigatoka, met 'n swamdoder te bestry.
In Suid-Afrika is ook reeds aanplantings weens die voorkoms van Panamasiekte aan piesangproduksie onttrek en daardie grond word dan vir die verbouing van ander subtropiese gewasse, soos makadamianeute, gebruik.
Terwyl die verlies van Cavendish-piesangs weens Swart Sigatoka en/of Panamasiekte verbruikers in die ontwikkelde wêreld regstreeks sal raak, sal dit 'n nog groter uitwerking hê op die mense wat piesangs vir huishoudelike gebruik verbou. Volgens beskikbare inligting word sowat 13 % van die wêreldproduksie van piesangs uitgevoer, terwyl die ander 87 % as stapelvoedsel in die ontwikkelende lande verbou word.
Piesangs is, gemeet aan produksiewaarde, die belangrikste voedselgewas ter wêreld naas rys, koring en mielies. Die meeste van die piesangprodusente in die ontwikkelende wêreld voer 'n oorlewingsbestaan en kan nie die duur chemiese middels bekostig om piesang-siektes mee hok te slaan nie. Epidemiese siektes wat piesangs aanval, kniehalter dus voedselsekerheid en die inkomste van miljoene mense in die ontwikkelende wêreld. Nuwe, siektebestande piesang-kultivars is dus dringend noodsaaklik.
Dr. Viljoen sê die feit dat die bestaande kommersiële piesangvariëteite steriel is en nie saad produseer nie, bemoeilik die ontwikkeling van nuwe siektebestande-kultivars. Net vyf instansies werk tans wêreldwyd om nuwe piesangkultivars te teel. Omdat piesangs hoofsaaklik vermeerder word deur suiers wat onder aan die stam van die plant ontwikkel of deur moderne weefselkultuurpraktyke, wend navorsers hulle nou tot onkonvensionele verbetering deur biotegnologie.
Ongelukkig is hierdie navorsingspoging maar 'n druppel aan die emmer as na die belangrikheid en die omvang van die probleem gekyk word. Tans word skokkend min geld belê in piesangnavorsing as dit vergelyk word met die strategiese belangrikheid van die gewas, sê dr. Viljoen.
By FABI word navorsing op sowel Panamasiekte as Sigatoka-blaarsiektes gedoen. Panamasiekte word in 'n uiters omvattende program bestudeer wat wissel van basiese siektebestrydingstrategieë, soos siektebestuur en biologiese bestryding, tot uiters gevorderde biotegnologiese navorsing wat insluit die isolasie en identifisering van weerstandsgene.
Daar word ook van molekulêre merkers gebruik gemaak om vinnig tussen siektes soos Swart Sigatoka en Geel Sigatoka te kan onderskei en, sê dr. Viljoen, hierdie molekulêre identifikasies wat die afgelope paar jaar op honderde blaarmonsters gedoen is, dui aan dat Swart Sigatoka beslis nie in Suid-Afrika voorkom nie.
21 Februarie 2003