Te veel kan tamatiepryse laat daal
Die bogemiddelde pryse wat die afgelope tyd vir tamaties behaal is - tot sowat R3 750 per ton - kan boere aanspoor om meer as gewoonlik te plant. Dit, en 'n daling in die besteebare inkomste van verbruikers weens die styging in rentekoerse verlede jaar, kan druk op pryse plaas.
Só sê mnr. Chris Bezuidenhout, bestuurder van die Tamatieprodusente-organisasie.
Tamatieboere in Suid-Afrika was deur die jare nog altyd vry om soveel tamaties te produseer as wat hulle wil en ook te bemark soos en waar hulle wil. Dit sluit in bemarking in hul produksie-omgewing, lewering aan die nasionale varsproduktemarkte, regstreekse bemarking en lewering aan verwerkers van tamaties.
Produksievolumes het oor die jare redelik bestendig gebly op sowat 400 000 ton per jaar en dit lyk nie of dit beduidend gaan styg nie. Dit is tensy boere baie meer plant as gevolg van die goeie pryse wat nou vir tamaties betaal word. In sekere produksiestreke beweeg boere weg van die tradisionele oop stelsels na verbouing onder beskerming weens klimaatsverskynsels en hoë koste. Die eksotiese tamaties wat só vir 'n nismark geproduseer word, word op kontrak aan verspreiders, soos kettingwinkelgroepe, gelewer teen pryse waarop vooraf ooreengekom word. Mnr. Bezuidenhout sê dit lyk asof boere ál meer regstreeks bemark en stadig besig is om weg te beweeg vanaf die sentrale bemarkingskanaal deur varsproduktemarkte.
Stabieler jaar vir
aartappelbedryf
"Aartappel SA hét foute gemaak, maar dit sou 'n groter fout wees om die bedryf daarvoor te penaliseer. Om die verlede teen ons te hou, bemoeilik die toekoms. Daar moet dus orde in die bedryf kom en ons moet aangaan."
Só sê dr. Niël Theron, hoofbestuurder van Aartappels SA.
"Daar is twee groeisektore in die aartappelbedryf: Die informele handel waar dit nalatig sou wees om nie betrokke te raak nie; en die verwerkingsbedryf, wat onlangs met 19 % gegroei het.
"Na aanleiding hiervan is die toestand van navorsing kommerwekkend, want ons is reeds agter wat die verwerkingsbedryf betref. Dié markverskuiwing is nie betyds raakgesien nie. Die meeste kultivars wat vir die mark geskik is, is buitelandse produkte. Ons het nou uitstekende plaaslike kultivars wat teen die gevestigde produk moet meeding en boere is skepties om nuwes te beproef," sê dr. Theron.
Hy meen bedrywe moet nuwe moontlikhede oorweeg, iets soos vennootskappe van bedrywe wat raakpunte het en alliansies met universiteite en technikons.
"Die politiek moet uit navorsing gehaal word, want waar staatsgeld betrokke is, geld ander oorwegings - ongeag die regering wat aan die bewind is."
Aartappels SA verwag dat boere 47 500 ha gaan plant (teenoor verlede jaar se 53 800 ha). Die twee faktore wat aanplantings kan demp, is die goeie prys vir graan, wat laerisiko-gewasse is met 'n gewaarborgde prys, en die skaarste aan bekostigbare plantmateriaal. Dié skaarste is te wyte aan die feit dat moerkwekers aartappels op die mark gesit het vanweë die goeie prys die afgelope tyd.
Hy meen die pryse sal vorentoe stabiliseer op ongeveer R20 tot R25 per sak van 10 kg, wat 'n wensituasie vir alle betrokkenes sal inhou.
"Pryse van R10 tot R15 per 10 kg sal produsente seermaak, maar 'n te hoë prys laat kopersweerstand ontstaan. "Die bedryf is in die verlede om produsente gekonsentreer, maar welvaart moet die hele waardeketting in ag neem. Dit is onverantwoordelik om eng te dink en ons sal mekaar moet bystaan. Ons moet op plekke toegee om m²e weer meer te kan skep," sê dr. Theron.
Heelwat meer uie geplant
Die jaar 2003 kan 'n moeilike bemarkingsjaar vir uieboere wees. Groot aanplantings in die Noord- en Wes-Kaap kan produsentepryse vir die eerste helfte van die jaar onder druk hou.
Die afgelope jaar het boere in Julie, Augustus en September tot R30 per sak van 10 kg vir hul uie gekry. Die rede hiervoor was die hoë vogtigheid in die provinsie Limpopo wat veroorsaak het dat uie nie wou droogword nie. Toe dié uie in Oktober droog was, het Limpopo se boere een miljoen sakkies uie bemark, wat die prys tot R8 per sakkie laat tuimel het.
Mnr. Kobus Vorster, van die ZZ2-landgoed naby Mooketsi, een van Suid-Afrika se groot uieboere, sê dat die Noord-Kaap se boere verlede jaar weer soos in vorige jare ongeveer 1 000 ha geplant het. Dit het sowat 4,8 miljoen sakkies uie gelewer, wat in November, Desember 2002 en Januarie 2003 bemark word. Dit kan die prys weer tot sowat R8 per sakkie laat daal.
Boere in die Wes-Kaap het na verwagting ongeveer 350 ha meer as in die vorige seisoen geplant. Die totale aanplanting sal na verwagting 10 miljoen sakkies uie oplewer. Dié uie word vanaf Februarie tot Junie bemark. Dit kan ook pryse afdruk, ondanks die feit dat sowat ses miljoen sakkies hiervan uitgevoer sal word. Boere in die provinsies Noordwes en Limpopo het die afgelope seisoen 2 650 ha geplant en sal dit waarskynlik weer doen. Mnr. Vorster meen egter dat as minder mielies in die mieliestreke vanweë droogte geplant word, dit Limpopo se boere kan aanspoor om mielies eerder as uie onder besproeiing te plant. Hierdie boere sal teen die helfte van Februarie 2003 hul kwota uie klaar geplant hê. As dit baie minder as gewoonlik is, sal dit aan die boere in die Wes-Kaap die geleentheid gee om hul bemarkingseisoen heelwat te rek. 10 Januarie 2002