
Is Chenin blanc sinoniem met Suid-Afrika in dieselfde mate dat Sauvignon blanc aan Nieu-Seeland behoort of Malbec met Argentinië verbind word?
Dít was die belangrike vraag op almal se lippe by die Chenin blanc-assosiasie (CBA) se konferensie Maandag (14 November 2011) op Stellenbosch.
Volgens navorsing deur mnr. Cees van Casteren, wynkonsultant, moet 'n kenwyn (“signature wine”) oor unieke, onderskeidende eienskappe beskik, dit moet 'n betekenisvolle bydrae tot 'n land se aanplantings en uitvoer speel, dit moet die bedryf se ondersteuning geniet en moet ook deur die media en handel onderskryf word.
Mees aangeplante kultivar
Hoewel Chenin blanc sy oorsprong in Frankryk se Loire-vallei het, maak dit sowat 20% (18 500 ha) van Suid-Afrika se wyndruifstand uit. Dit is die mees aangeplante kultivar in die land. Dit is veelsydig en kan vir vir enigiets van droëwyn tot edellaatoes, vonkelwyn en distillering aangewend word.
Die bedryf is egter steeds verdeeld of Chenin blanc die mas gaan opkom as kenwyn vir Suid-Afrika. Tydens blindeproeë kon wynproewers akkuraat tussen Chenin blanc van Suid-Afrika en Frankryk onderskei.
Toe honderde Suid-Afrikaanse wynmakers gevra is watter kultivar die land se vlagskip behoort te wees, het Pinotage net enkele punte meer as Chenin blanc behaal.
Produsente het egter onderlangs gemor dit is nie genoeg bewys nie en dat nuwe, oorspronklike idees nodig is as Chenin blanc as unieke Suid-Afrikaanse wyn erken wil word.
Onderskei van ander lande
Mnr. Bruwer Raats, 'n Chenin blanc-wynmaker wat homself op Twitter CheninKing noem, sê vanuit die oogpunt van die nuwewêreld-lande gesien is dit die enigste kultivar wat Suid-Afrika vir homself kan opeis.
“Dit bly vir ons belangrik om te wys wat ons van ander lande onderskei, en nie wat ons soortgelyk aan hulle maak nie. Dit is die moeilike pad, maar dit is die enigste manier waarop ons die respek van die wynwêreld gaan verdien.”
Vanweë die kultivar se vermoë om hoë produksie te lewer, het Chenin blanc nog altyd 'n “werkesel”-beeld in Suid-Afrika gehad.
“In die verlede het ons 'n volbloedperd geneem, dit soos 'n werkesel gehanteer en gekla toe ons 'n karperd kry. Die probleem is nie die kultivar nie, maar die manier waarop ons dit hanteer.
"Ons moet in Chenin blanc glo en die plaaslike mark oortuig dit is spesiaal en moet gedrink word. As ons nie die plaaslike mark kan oortuig nie, hoe gaan ons die internasionale mark se harte wen?”
Meer verstaanbaar
Raats het benadruk dat die kultivar meer verstaanbaar gemaak moet word vir verbruikers.
“Mense weet nie altyd of hulle soet- of droëwyn koop nie. Of ons nou die voorste of agterste etiket daarvoor gebruik, ons moet 'n manier vind om die verbruiker te laat verstaan wat hy inderwaarheid koop.”
Lees binnekort in Landbouweekblad meer oor dié oproep vir opvoeding van wynliefhebbers.
15 November 2011