Die weerstand wat geneties gemodifiseerde (GM) aartappels teen die blaarmyner, 'n plaag wat boere tans groot skade gee, het veroorsaak dat boere dié aartappel met ope arms verwelkom. Boere oor die algemeen voel dat as dit vir verbruikers en die mark aanvaarbaar is, sal hulle dit sonder huiwering aanplant.
Die Amerikaanse Landbounavorsingsdiens (LND) het bekend gemaak dat die tegnologie wat blaarslaai blaarmynerbestand maak, nou ook op aartappels toegepas kan word. As die plaaslike aartappelbedryf ten gunste is daarvan kan die Landbounavorsingsraad (LNR) die aartappel ontwikkel. Volgens dr. Kobie de Ronde van die LNR is Aartappel SA egter daarteen gekant weens weerstand van verbruikers en die uitvoermark.
Boere is wel ten gunste van die GM-aartappel omdat dit bestand teen die aartappelmot en blaarmyner sal wees. Insekdoderkoste en insetkoste sal dan heelwat daal. Skade vanweë die aartappelmot beloop die aartappelbedryf reeds 'n verlies van sowat R40 miljoen.
31 Maart 2009