
Die moontlike vestiging van ‘n geneties gemanipuleerde (GM) hektaar wingerd op die Wellgevallen-proefplaas aan die buitewyke van Stellenbosch, het die steun van verteenwoordigende bedryfsorganisasie in die wynbedryf, maar daar is kommer dat só ’n projek Suid-Afrika se beeld as ‘n organiese wynland skade sal berokken, luidens ‘n berig van Sake24.
Die proeflopie sal deur die Universiteit van Stellenbosch se Instituut vir Wynbiologie bestuur word en volgens die betrokke organisasies is “die wynbedryf oortuig dat ‘n wêreldleier soos dié instituut die wetenskaplike eksperimente volgens ‘n streng gereguleerde proses sal hanteer”. Die doel is om GM-oplossings vir druifstoksiektes te vind en sodoende produksie te verbeter.
VinPro, die vereniging vir die eienaars van drank-handelsmerke (Salba), Winetech en Wynkelders Suid-Afrika het gesamentlik verklaar dat hulle tevrede is dat die proses en tewerkstelling van die voorgestelde projek met verantwoordelikheid en deursigtigheid deur die instituut hanteer sal word.
Hulle stem ooreen met die huidige wetgewing wat die vervaardiging van wyn van GM-wingerde en –giste verhoed, maar meen die land moet sy mededingendheid internasionaal versterk deur navorsing. Teenstanders van die proeflopie wag op die uitslag van ‘n appèl deur nie-regeringsorganisasies teen die toestaan van ‘n permit om met die projek voort te gaan.
Intussen waarksu VinPro dat wynboere sukkel om die mas op te kom en winsgewend te boer. Die winsgewendheid van wynproduksie is deur mnr. Gert van Wyk, landbou-ekonoom by VinPro, namens die tydskrif Wynland ondersoek en hy meen die pryse wat Suid-Afrikaanse wyn op buitelandse rakke haal, is baie laag. Luidens ‘n berig van Sake24 kry wynmakers 2 % van die gemiddelde rakprys van ‘n bottel wyn by kleinhandelaars en supermarkte.
Van Wyl sê “primêre wynprodusente is onder ernstige druk om ekonomies volhoubaar te produseer as daar nie drastiese verhoging kom in die gemiddelde binnelandse en oorsese rakpryse nie”. Hy voeg by dat ‘n produsent ‘n minimum van R1,07 per bottel moet ontvang om winsgewend te wees, maar tans is dié syfer nader aan 44 sent per bottel.
Bron:
Sake24
12 Oktober 2009