
“Die vooruitsigte vir die 2014-sitrusseisoen vir die Suider-Afrikaanse sitrusbedryf lyk rooskleuring ondanks die feit dat die Europese Unie (EU) se verslag oor sitrusswartvlek nie in ons guns was nie,” sê dr. Hennie le Roux, voorligtingsbestuurder van Citrus Research International (CRI).
Die maatreëls wat sal geld vir sitrus wat uit swartvlekbesmette gebiede na die EU uitgevoer word, behoort enige dag bekend gemaak te word. Die plaaslike bedryf benader die probleem met baie groot erns.
Volgens Le Roux word verwag dat 113 miljoen kartonne (15 kg elk) hierdie seisoen uitgevoer sal word soos in 2013. Die vruggrootte is vanjaar beter en die vrugte is besonder skoon. Daar word verwag dat 14% meer suurlemoene uitgevoer sal word. Die vooruitsigte vir die suurlemoene lyk besonder goed nadat Argentinië se oes deur koue beskadig is en waarskynlik 40% laer sal wees. Die Spaanse oes was ook kleiner as wat aanvanklik gemeen is.
Amerika se sitrusuitvoere is sowat 10% laer en Italië se oes het die afgelope paar jaar weens 'n virus met 20% afgeneem. Uruguay moet ook van vanjaar af 'n 16% invoerheffing betaal op sy EU-uitvoere. Marokko se bedryf het gegroei tot 2,2 miljoen ton terwyl Egipte en Turkye se bedrywe ook groei, al is van hierdie vrugte nie van ’n goeie gehalte nie.