
Wingerde wat vir winsgewender gewasse moes plek maak, gaan ’n invloed op volgende jaar se wynoes hê.
“In hierdie baie vroeë stadium word die wyndruifoes kleiner as in 2021 beraam, maar steeds groter as die vyfjaarbedryfsgemiddelde,” sê mnr. Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige dienste. Vanjaar se oes het net meer as 1,46 miljoen ton beloop.
Schutte skryf die verwagte afname veral toe aan wingerde wat uitgehaal is. Suid-Afrika het van 2015 tot 2020 meer as 6 000 ha wingerd verloor.
“Met die onlangse droogte het mense al begin kyk na diversifikasie, maar die inperking (weens covid-19) en die verbod op drankverkope het sekere produsente ook aangespoor om strategies weg te beweeg van wyndruiwe.”
Veral die Olifantsrivier- en Oranjerivierstreek se oeste word kleiner geskat as die vorige seisoen. Veral ná die droogtejare is heelwat wingerde uitgehaal. In die Oranjerivier plant produsente eerder tafel- of droogdruiwe en in die Olifantsrivierstreek kyk hulle na ander gewasse.
Robertson se oes word ook ligter geraam. Hoewel die wingerde mooi groei, is die gemiddelde trosgrootte en -getalle minder as gewoonlik.
Daar is egter streke wat in 2022 meer kan pars as tydens die vorige seisoen.
“Stellenbosch en die Kaap-Suidkus is die twee streke wat baie goed lyk. Sake lyk rooskleurig op Stellenbosch danksy goeie groei as gevolg van goeie winterstoestande. Die toestande was ook gunstig tydens die blomperiode, veral vir die vroeë kultivars. Ons sal nog ondersoek instel na latere kultivars, soos Cabernet sauvignon, wat tydens koel, nat en winderige toestande geblom het. Dit kon die vrugset benadeel het.”
Hy sê die Kaap-Suidkus (wat die Hemel-en-Aarde-vallei insluit) is baie vatbaar vir donsskimmel. “Dis nog onder beheer, maar as donsskimmel posvat, wat gewoonlik in Desember en Januarie gebeur, kan dit vinnig die oesgrootte verander,” sê Schutte.
Gunstige toestande
Die bedryf het ’n goeie winter agter die blad. Dis weerspieël deur gereelde sneeuval op bergpieke saam met bestendige reënval wat grondwatervlakke aangevul het.
Wes-Kaapse damvlakke het aan die begin van die groeiseisoen op 81% gestaan. Watervoorsiening in die Noord-Kaap uit die Vaalrivierstelsel blyk ook voldoende en in die Klein-Karoo, veral by produsente wat water kry uit Montagu se CBR-skema, is watervoorsiening ook beter.
Hoewel bottyd sowat een tot twee weke later as gewoonlik plaasgevind het, was dit “deurgaans mooi en egalig”.
Die groeiseisoen was aanvanklik traag weens die koeler toestande, maar in November kon die wingerde inhaal. Blomtyd was sowat vyf dae laat.
Siektes
Schutte het gemaan dat die siektedruk vanjaar enorm is. Daar was verskeie tydperke dat toestande gunstig (nat weer opgevolg deur hitte) was vir veral die ontwikkeling van donsskimmel.
“Ons moes vroeër as gewoonlik begin spuit en die produsente hou baie streng by die frekwensies. Hoewel dit goed beheer word, het ek hier en daar al uitbrekings raakgeloop, nie net op die blare nie, maar ook op die trosse. Dit kan problematies wees.”
Die eerste druiwe word al einde Januarie gepars. Later kultivars, soos Cabernet sauvignon, kom eers Maart aan die beurt.
“Daar kan nog baie gebeur in dié tyd. Die tydsberekening van aksies is nou belangrik en lowerbestuur gaan uiters belangrik wees tussen nou en oestyd.”
Die volgende oesskatting word in die derde week van Januarie gedoen.