Die roos - Vanilla Sky - is net op drie ha in die hele wêreld te vinde. Die plaas is 'n voortsetting van Goldfields se Wes-Driefonteinemyn.
Mnr. Francois Pawson, die bemarkings- en verkoopsbestuurder van Agrihold, sê dat die wet mynmaatskappye verplig om volhoubare projekte buite die mynbou in gebiede waar hulle myn daar te stel. Agrihold bestuur die roosplaas en is deel van Goldfields.
Die roosplaas verskaf werk aan 320 mense en strek oor 10 ha. Dit het sowat R130 miljoen gekos om op te rig. Daar word 10 soorte rose gekweek en 60% daarvan word na Japan, Australië en die VSA uitgevoer. Die ander 40% word plaaslik verkoop.
"Oranje en geel rose is die beste verkopers en is die rose wat vroue vir hul huise koop. Rooi rose verkoop die swakste - slegs 10% van verkope bestaan uit rooi stele."
Die plaas is die enigste in Suid-Afrika met Global Gap-akkreditasie vir etiese sakebedrywighede en het in 2007 Trots Suid-Afrikaans se produk van die jaar-prys verower.
Bron:
Beeld
17 Oktober 2008