
Altesaam 100 inskrywings, wat ? toename van 58% op verlede jaar is, is vir die agtste SA Olive-toekennings ontvang – die meeste inskrywings van plaaslik geproduseerde olyfolies nog.
“Dit wys ongetwyfeld dat dié bedryf konstant aan die groei is – in terme van die aantal produsente, maar ook in terme van kwaliteit,” meen mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive.
“Dit dui ook daarop dat produsente ? toenemend hoë premie plaas op die uitslae van hierdie toonaangewende kompetisie.” Olyfolies ding mee in kategorieë vir Intens, Medium en Delikate olies.
Die groot aantal olyfolies wat om die goud, silwer en bronsmedaljes meeding, is deur ? span gekwalifiseerde beoordelaars geproe en geëvalueer. Die span was Gerrie Duvenage (as sameroeper), Reni Hildenbrand, Louise Rabie, Robert Claasens, Leonard Arangies, Benedetta Lami en Anna-Marie Ferreira. Die beoordelaars het almal reeds die amptelike beoordelingskursus voltooi en die internasionale Threshold-toets geslaag.
Goue en silwermedaljes toegeken
Volgens Duvenage, sameroeper van die proepaneel, is die kwaliteit van inskrywings indrukwekkend. “Nadat ons 28 olies op die eerste dag geproe het, is die kwaliteit van die olies werklik opmerklik. Daar is geen olies wat nie die paal gehaal het nie, en net enkele bronsmedaljes is toegeken, terwyl die meeste silwer en goud ontvang het.”
Die inskrywings word blind geproe en beoordeel op grond van die kwaliteit, die kompleksiteit en balans van die aroma en smaak. Die standaard van plaaslike olyfolies is oor die algemeen hoog en dit vergelyk uitstekend met die wêreld se bestes.
Vanjaar se uitblinkers word op 21 Augustus tesame met die 2013 Olyfpresteerder van die Jaar bekend gemaak. Vanjaar se kompetisie word goedgunstiglik deur Pieralisi, Alfa Laval en Oliomio TEM geborg.
Kontak SA Olive vir verdere inligting omtrent die kompetisie by tel 021 870 2900, epos info@saolive.co.za of besoek www.saolive.co.za.