
Mnr. André de Wit, voorsitter van die Langkloof-boervereniging, sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die suksesvolle vrugte-oes wat hulle vanjaar kan aanteken.
“Ons het ’n hele paar uitskieters gehad, maar ongelukkig het ’n paar boere ook onder hael deurgeloop, wat beteken het dat hul oeste kleiner was as wat aanvanklik verwag is,” vertel De Wit.
Die vallei produseer meestal appels, pere en pruime. Die grootste deel van die peer- en pruim-oes word uitgevoer, terwyl die meeste appels plaaslik gelewer word.
Twee probleme
De Wit sê te midde van hul blydskap het hulle dié seisoen veral twee probleme ondervind. Die eerste is dat die vallei nie genoeg kratte gehad het vir al die vrugte wat gelewer is nie. Die tweede probleem was beperkte koelkamerruimte.
“As ons volgende jaar weer so ’n goeie jaar beleef, en die boere wat dié jaar haelskade gehad het ook goeie oeste aanteken, gaan dié probleem redelik ernstig wees,” sê De Wit. Hy sê uitbreiding is nodig aan die vallei se geriewe, maar dit is moeilik om dit te onderneem terwyl hulle nie seker is oor wat toekomstige seisoene inhou nie.