
Plaaslike bessieprodusente het ’n groot stap vorentoe geneem met die stigting van die Suid-Afrikaanse Bessie-produsente-assosiasie (SABPA).
Die stap is geneem ná ’n IDC-inisiatief in Maart vanjaar om al die sleutelpersone van die Suid-Afrikaanse bessiebedryf bymekaar te kry. Luidens ’n verklaring is daar besluit om lidmaatskap tot die SABPA te beperk tot produsente, wat jaarliks lidmaatskapgeld en ’n heffing sal moet betaal.
Dié intekengeld sal bepaal word deur die produksie-gebied waarin die produsent werk. Daar is reeds ’n uitvoerende komitee saamgestel wat bloubessies, frambose en swartbessies in verskeie gebiede verteenwoordig.
Doelwitte
Die komitee bestaan uit mnre. Trevor McKenzie, Sean Tager, Andreas Moll, Chrisleo Botha, Jean Kotze, Tiaan Steyl en Philip Howes.
Van die SABPA se doelwitte sluit in om ’n volhoubare bessiebedryf te verseker, om met ander bessie-groepe op internasionale vlak inligting uit te ruil en om die verkoop en verbruik van bessies op die plaaslike en uitvoermark te verbeter.
Produsente wat belang stel om by die SABPA aan te sluit, kan me. Michelle Swarts by tel. 021 870 2900 of e-pos: michelle@hortgro.co.za kontak.
27 September 2011