
Mnr. Johan “Mosdop” Dippenaar van die Grootdrink-kelder het met die tiende Wynmaker van die Jaar-toekenning weggestap in die Spar Country Cellars-wynkompetisie op Upington.
Grootdrink is ook as die beste kelder aangewys uit die vyf wynkelders wat deel uitmaak van die Oranjerivier-wynkelders.
Innoverende praktyke
Die doel van die kompetisie is om wynmakers by die Oranjerivier-wynkelders te inspireer om meer innoverend in die wynbereidingsproses te wees en die beste moontlike wyne met die middele tot hul beskikking te maak, het mnr. Tinus van Niekerk, internasionale wynkonsultant en sameroeper van die kompetisie, gesê.
Dippenaar wen R30 000 en ’n reis na Frankryk om by wynmeesters te gaan kers opsteek. Spar doen sedert 2001 sake met die Oranjerivier-wynkelders. Die supermark se produkte met die Carnival- en Country Cellars-handelsmerk word deur dié Noord-Kaapse kelder gemaak.
Die kelder pars jaarliks sowat 165 000 ton druiwe wat vir wyn (gebottel en groot maat) en verwante produkte, druiwekonsentraat en sap aangewend word.
Die gebied is ’n paar maande gelede ernstig oorstroom en heelwat skade is aan wingerde aangerig.
Dit het gelei tot ’n druiwe-oes wat vanjaar 28 000 ton kleiner was as gewoonlik. Ondanks die oorstromings en ’n oesjaar wat wyd as uitdagend bestempel word, was die beoordelaars dit eens dat 2011 aan uitstaande wyne gekenmerk word.
Verbetering in gehalte
Hulle was ook opgewonde oor die verbetering in die gehalte van wyne sedert die kompetisie begin het. Mnr. Abe Beukes van Darling Cellars en een van die beoordelaars in die kompetisie meen veral die “werkesels” Chenin blanc en Colombar het vanjaar “hul kant gebring”.
Nóg ’n beoordelaar, mnr. Guy Webber van Stellenzicht, het gevra: “Waar is die vloede en die swak oesjaar, want die wyne is absoluut wonderlik?”
Mnr. Niel Pendock, bekende wynpersoonlikheid wat ook in die proe-paneel gedien het, meen die Oranjerivier-wynkelders kry dit reg om wyne te maak wat goeie waarde vir geld is, en dit is belangrik in die huidige ekonomiese klimaat.
Altesame 105 wyne is vir die eerste ronde van die kompetisie ingeskryf, waarvan 35 tot die finale proeronde deurgedring het. Spar sal besluit of die wenwyn afsonderlik gebotteleer sal word en of dit as deel van ’n versnit gebruik gaan word.
17 September 2011