Ou wingerde – en die gehalte- en duur wyne wat dit voortbring – kry die afgelope paar jaar baie aandag van wynboere. Mnr. André Morgenthal, bestuurder van die Ouwingerd-projek, sê sedert die ontstaan van die projek in 2016 het hulle daarin geslaag om 25% meer ou wingerde in die grond te hou.
“Dit is ’n kombinasie van mense wat meer omgee vir ons wingerderfenis, maar daar kom ook elke jaar ’n paar blokke by wat 35 jaar oud word en in aanmerking kom om geregistreer te word.”
Tans maak ou wingerde sowat 4% van die totale wingerdstand uit (net meer as 4 000 ha). ’n Wingerd word amptelik as oud beskou as dit 35 jaar of ouer is. Die meeste ou wingerde is Chenin blanc.