
Verwoestende haelbuie het skade van miljoene rand aangerig aan subtropiese vrugte in Limpopo en in Mpumalanga.
Die belangrikste verbouingsgebiede vir hierdie subtropiese gewasse is Hoedspruit, Levubu en Tzaneen in Limpopo, Kiepersol/Hazyview, Nelspruit/Witrivier en die Onderberg in Mpumalanga en sekere gebiede in KwaZulu-Natal.
In Levubu naby Louis Trichardt, by Tzaneen en by Hoedspruit in Limpopo, is groot skade aangerig aan veral avokado-, mango- en lietsjieboorde asook aan piesangaanplantings.
Mnr. Piet Muller, voorsitter van Subtrop, die oorhoofse kwekersvereniging vir die avokado-, lietsjie, mango- en makadamiabedrywe asook boer van Levubu, sê voorlopige ramings is dat die volgende avokado-oes weens die haelskade asook ander ongustige klimaatstoestande nie meer as sowat 8,0 miljoen kartonne sal wees nie teenoor die vorige rekordoes van 11,9 miljoen kartonne.
Groot skade
Volgens Muller kom hael van tyd tot tyd in hierdie verbouingsgebiede voor, maar dan is dit meer geïsoleerde buie met dikwels minder ernstige skade. Haelbuie het vanjaar reeds groot skade aangerig in die Levubu-, Tzaneen-, Hoedspuit- en Kiepersol/Hazyview-gebiede.
Mnr. Lucas McLean, die bedryfsbestuurder: produksie van Westfalia naby Tzaneen, sê die hael het skade van 25% tot 80% aangerig op sowat 930 ha avokado’s. Westfalia is die grootste avokadoprodusent in Suid-Afrika. Van die 930 ha beskadigde avokadoboorde is sowat 350 ha 50% beskadig, 50 ha het erg deurgeloop met skade van sowat 80% terwyl die res sowat 30% skade opgedoen het. Sowat 75 ha van Westfalia se makadamias, waarvan die neute net soos die vrugte van die avokado’s nog in ’n jong stadium is, het 80% skade opgedoen, sê McLean.
Piesangs geknou
Mnr. Andri Knipe, voorsitter van die Piesangkwekersvereniging van Suid-Afrika (PKVSA) en verbonde aan die A.P.Vos-boerdery van Kiepersol, sê hulle piesangs het groot skade opgedoen en van die relatief min vingers wat nie te erg beskadig is nie, sal nog as enkel-piesangs bemark kan word. Die boerdery se sowat 100 hektaar avokado’s het egter gemiddeld sowat 70 % skade opgedoen, sê Knipe.
Mnr. Edzard Grimbeek van die Navobani-boerdery van Kiepersol sê piesangs en avokado’s het ook kwaai deurgeloop. Hy reken sowat 90 % van sy avokado-oes is vernietig en sowat 30 % van die piesangs het in die slag gebly.
Mnr. Jaco Fivaz, onder-voorsitter van die SA Mangokwekersvereniging (SAMKV) en boer van Mohlatsi naby Hoedspruit sê twee weke voordat hy sy eerste mango’s vir die mark sou pluk, het ’n haelbui die meeste afgeslaan en dit só erg beskadig dat die bruikbare vrugte nou vir verwerking tot atjar aangebied word.
17 November 2010