Die afgelope jaar het boere in Julie, Augustus en September tot R30 per sak van 10 kg vir hul uie gekry. Die rede hiervoor was die hoë vogtigheid in die provinsie Limpopo wat veroorsaak het dat uie nie wou droogword nie. Toe dié uie in Oktober droog was, het Limpopo se boere een miljoen sakkies uie bemark, wat die prys tot R8 per sakkie laat tuimel het.
Mnr. Kobus Vorster, van die ZZ2-landgoed naby Mooketsi, een van Suid-Afrika se groot uieboere, sê dat die Noord-Kaap se boere verlede jaar weer soos in vorige jare ongeveer 1 000 ha geplant het. Dit het sowat 4,8 miljoen sakkies uie gelewer, wat in November, Desember 2002 en Januarie 2003 bemark word. Dit kan die prys weer tot sowat R8 per sakkie laat daal.
Boere in die Wes-Kaap het na verwagting ongeveer 350 ha meer as in die vorige seisoen geplant. Die totale aanplanting sal na verwagting 10 miljoen sakkies uie oplewer. Dié uie word vanaf Februarie tot Junie bemark. Dit kan ook pryse afdruk, ondanks die feit dat sowat ses miljoen sakkies hiervan uitgevoer sal word.
Boere in die provinsies Noordwes en Limpopo het die afgelope seisoen 2 650 ha geplant en sal dit waarskynlik weer doen. Mnr. Vorster meen egter dat as minder mielies in die mieliestreke vanweë droogte geplant word, dit Limpopo se boere kan aanspoor om mielies eerder as uie onder besproeiing te plant.
Hierdie boere sal teen die helfte van Februarie 2003 hul kwota uie klaar geplant hê. As dit baie minder as gewoonlik is, sal dit aan die boere in die Wes-Kaap die geleentheid gee om hul bemarkingseisoen heelwat te rek.
10 Januarie 2002