
Die Regering gaan moontlik statutêre heffings vir die olyfbedryf instel.
Die SA Olyfvereniging het die Minister van Landbou, Bosbou en Vissery versoek om statutêre maatreëls op olyfprodukte, insluitend tafelolywe en olyfolie, in te stel.
Dié maatreëls sal van toepassing wees op registrasies, heffings, die byhou van inligting en opbrengste. Die voorgestelde heffing vir olyfolie sal neerkom op ’n heffing van 40 sent per liter vir 2011/’12 en dan jaarliks met ’n sent verhoog word tot dit in 2014/’15 op 43 sent per liter te staan sal kom.
Heffing elders ingespan
In 2011/’12 agt sent per kilogram op tafelolywe gehef word. Dié heffing sal ook jaarliks met ’n sent verhoog word tot dit op 11 sent per kilogram in 2014/’15 te staan sal kom.
Dié heffings sal op plaaslike produksie, sowel as in- en uitvoer, van krag wees.
Die ingesamelde heffing sal onder meer vir navorsing- en ontwikkelingsprogramme ingespan word.
Dit sal vir inligting en statistieke, gehaltebeheer en sertifisering, kommunikasie, verbruikersopvoeding, markontwikkeling, transformasie en opleiding gebruik word.
Geldig vir vier jaar
Dié heffing sal vir vier jaar ná die dag waarop dit in werking tree, van krag wees.
Rolspelers wat graag bydraes wil lewer, word genooi om die Nasionale Landboubemarkingsraad te kontak.
Bel me. Mathilda van der Walt by tel. 012 341 1115, of stuur ’n faks na 012 341 1911. Stuur ook ’n e-pos na mathilda@namc.co.za.
23 Junie 2011