
Die voorsitter van Prieska se Besproeiingsboerevereniging, mnr. André van Niekerk, het ’n video met sy iPad gemaak om te wys hoe ’n pekanboom geënt word.
Die video vertoon hoe ’n ent op ’n onderstam gemaak word, asook die viervlak-ent, waarmee hy as pekanboer redelik welslae behaal.
Die DeMeul-boerdery, waar Van Niekerk werk, het altesame 25 000 pekanbome. Die bedryf is nou in ’n bloeitydperk in dié omgewing en ontwikkel teen 'n enorme tempo.
Na raming word 200 000 bome per jaar word aangeplant. Prieska is die enigste A-plus-gebied in die land weens sy kort koue winters en die lang warm somers.
Van Niekerk sê dié ontwikkeling strek vanaf Hartswater suidwaarts na Upington en al teen die Oranje- en Vaalrivier af. Gemiddeld word 100 bome per ha aangeplant. ’n Groot draende boom van 15 jaar oud, gebruik in die hoogsomer 600 liter water per dag.
Dié kort video is 2 minute en 36 sekondes lank.
21 November 2011
"