
Mnr. Reg Holder, ’n wynmaker wie se entoesiasme vir terroir hoog loop, is pas aangestel as wynmaker by die bekende Delheim-wynplaas naby Stellenbosch.
Hy het die afgelope vyf jaar by Neil Ellis Wyne gewerk.
Holder is ’n ou hand met Stellenbosch se terroir en is veral opgewonde oor die moontlikhede in die Simonsberg-wyk, waar Delheim se wingerde geleë is. Hy meen die gebied is ideaal vir klassieke kultivars, soos Chardonnay, Cabernet Sauvignon en Shiraz.
Laasgenoemde is sy gunsteling vanweë die druifsoort se natuurlike vrugkarakter en uitsonderlike prestasie sonder oormatige houtveroudering. Holder sê sy eerste prioriteit is om die terroir te respekteer en daarvolgens die regte kultivar te plant.
Wyn is 'n 'lewende ding'
“Die uiteindelike doel moet wees om uitdrukking aan die streek te gee, van die bestuurspraktyke in die wingerd tot by die keuse van houtvate. Dit is belangrik om te besef dat wyn ’n lewende ding is. Dit sal selfs ná bottelering nog ontwikkel, en dit moet uniek en getrou aan die terroir bly.”
Hy glo nie in ’n spesifieke kultivar nie, maar meen “wyne met identiteit” is waar die werklike geleenthede vir Suid-Afrika lê.
“Solank ons getrou bly aan die terrein, dit met die regte kultivars beplant en dit versigtig hanteer, is ons verseker daarvan om wyne te maak wat anders en uniek is. Met ons ongelooflike keuse van top-terroir moet generiese wyne nie eers ’n opsie wees nie.”
Holden is gretig om met minder bekende kultivars, soos Delheim se gewilde Gewürztraminer, te eksperimenteer. Hy sien ook daarna uit om met dessertwyne te werk wat volgens die “tradisionele styl” gemaak is.
2 November 2011