Elf jaar se blootstelling aan hop het ’n passie vir dié bedryf in me. Beverley-Anne Joseph (37) van George ontketen. As wenner van die New Harvest Produsent-eerbewys skryf sy haar sukses met dié bierbestanddeel toe aan harde werk en goeie mentors.
As ’n meisie van Grabouw was ek reeds van kleins af blootgestel aan die landbou. My pa was sy lewe lank ’n plaaswerker. Ná matriek was my geld beperk, maar my ma se entrepreneuriese gees het my gedryf om by plaaslike boere te gaan aanklop.
Uiteindelik het ek by die neurosjirurg en wynmaker dr. Paul Cluver uitgekom. Hy het my wingerd-en-wynboustudie aan die Universiteit Stellenbosch gefinansier. Ek het besluit om die landbou te omarm.