
Hopkins is nou voorsitter van die land se twee grootste en invloedrykste wynkompetisies, die SA Jongwynskou en Veritas. Hy neem die leisels oor by mnr. Duimpie Bayly, een van die veterane in die wynbedryf, wat ná agt jaar as voorsitter uitgetree het.
Hopkins sê: “Hierdie aanstelling bied my die geleentheid om 'n insiggewende bydrae te lewer in 'n bedryf wat my na aan die hart lê. Ek sal graag onder andere wil toesien dat die profiel van Veritas en die SA Jongwynskou verder uitgebou word en daar ag geslaan word op die waardevolle bydraes van alle belanghebbendes.”
Hy neem sedert 2005 die leiding as keldermeester by De Grendel in Durbanville. Hy word beskou as een van die land se mees ervare beoordelaars van Sauvignon Blanc, en hy proe op 'n gereelde basis by toonaangewende kompetisies, soos die SA Jongwynskou, die Top 10 Pinotage en International Wine and Spirit Competition. Hy tree ook op as mentor vir wynmaakstudente van Elsenburg en die Universiteit van Stellenbosch en is betrokke by verskeie tegniese wyn- en wingerdbou-besprekingsgroepe.
Hopkins volg in die gedugte voetspore van groot geeste in die wynbedryf wat oor die afgelope 35 jaar voorsitter van die SANWSA was, naamlik Duimpie Bayly (2004-2012), Danie de Wet (1995-2004), Lourens Jonker (1988–1995) en NC Krone (1977-1988).