
Verbruikers se hulp word gevra met ingevoerde aartappelskyfies wat ‘n krisissituasie in Suid-Afrika skep, sê Aartappels Suid-Afrika (ASA).
Luidens ‘n verklaring het die organisasie hom onlangs na die Ministers van Landbou, Bosbou en Visserye en Handel en Nywerheid gewend met ‘n versoek dat aandag geskenk word aan die ongunstige impak wat die situasie vir die land inhou.
Volgens ASA bevind die verwerkingsbedryf hom in ? krisis weens ? skerp toename in die invoer van bevrore aartappelskyfies vanaf Europa. “Aangesien elke rolspeler in die aartappel-waardeketting ongunstig geraak word, doen ASA ? dringende beroep op die Regering om tussenbeide te tree om ? volhoubare omgewing vir plaaslike aartappelverwerkingsbedryf te skep, of vir dringende ingryping om die ineenstorting van die verwerkingsbedryf te voorkom,” lui die verklaring.
Hoogtepunt in 2010
In 2009 is 15 460 ton bevrore skyfies ingevoer. Dié syfer het in 2010 ‘n hoogtepunt van 46 903 ton bereik. Verlede jaar is ‘n daling na 30 054 ton aangeteken.
Mnr. Etienne Booysens, bemarkingsbestuurder van ASA, sê 2010 se invoere vervang sowat 82 000 ton se aartappels wat plaaslik geproduseer word. Hy sê van die 650 aartappel produsente in die land, het 100 kontrakte met die verwerkingsbedryf.
Die jaarlikse totale plaaslike produksie van bevrore aartappelskyfies word op 120 000 ton beraam. Die werklike markgrootte is 150 000 ton, so 2010 se invoere het sowat ‘n derde van plaaslik geproduseerde aartappels vervang.
Werksgeleenthede ingeboet
Die organisasie sê dié situasie ontneem die land ook van werksgeleenthede. Sowat 58% of 435 000 ton van die plaaslike geproduseerde aartappels word vir die vervaardiging van geprosesseerde aartappelprodukte gebruik.
“Met ? arbeidsvermenigvuldiger van naby aan 1,2 werker per hektaar en meer as 9 500 hektaar wat vir die verwerkingsbedryf geplant word, kyk ons na meer as 11 400 werkers wat geraak word,” verduidelik Booysens.
Die drie grootste vervaardigers van bevrore skyfies in die land het meer as 1060 werkers in hulle diens, en interne en eksterne werkgeleenthede verbonde hieraan moet ook in ag geneem word.
Verbruikers se hulp gevra
Die organisasie vra verbruikers se hulp met die aankoop van plaaslik geproduseerde bevrore skyfies. “Weens die heersende bedreiging vir die volhoubaarheid van die plaaslike aartappelskyfiebedryf, doen ASA ? beroep op alle Suid-Afrikaanse verbruikers om aan te sluit by sy stryd om steun te werf teen die invoer van bevrore aartappelskyfies.”
Booyens moedig verbruikers ook aan om by kitsrestaurante en restaurante te vra of hulle skyfies van plaaslike oorsprong is. “Indien verbruikers hulle stem dik maak, mag ons dalk daarin slaag om die ineenstorting van die plaaslike aartappelverwerkingsbedryf te voorkom.”
28 April 2012