Plaaslike ingemaakte vrugte en verwante produkte, waaronder puree en moes (pulp), geniet internasionaal hoë aansien omdat die gehalte daarvan oor die jare altyd uitstekend was en steeds is. Dit is iets wat gekoester moet word, het mnr. Oelof van Rensburg van die Breëriviervallei Vrugteverwerkers op Worcester gesê.
Van Rensburg het tydens 'n vergadering van die Inmaakvrugte Produsentevereniging (IPV) gesê die moes- en pureebedryf se toekoms lyk gunstig. Die bedryf is goed gevestig en beskik oor 'n puik infrastruktuur.
Moes- en pureeprodukte se aanvraag is wêreldwyd aan die styg, en dit voeg waarde toe tot die vrugtebedryf. Hoewel knelpunte bestaan, is daar ook goeie geleenthede vir produsente.
Min regeringshulp is beskikbaar, te min transformasie het nog plaasgevind, insetkoste is hemelhoog, die bedryf is arbeidsintensief, werkers se produktiwiteit is dikwels laag en die randwaarde se fluktuasies pla.
Bedreigings vir die plaaslike bedryf sluit 'n afname in die voorsiening van vrugte in. Daar word jaarliks al minder vrugtebome gevestig. Stygings in die koste van noodsaaklikhede vir die bedryf, soos staal vir die blikke, benadeel ook die bedryf.
5 November 2008