
’n Analise van voedselsekerheid identifiseer drie groot uitdagings, en dié uitdagings kan deur intensiewe boerdery aangespreek word.
Mnr. Ernst Janovsky, senior landbou-ekonoom verbonde aan Absa Agribesigheid, sê die drie uitdagings is of genoeg voedsel geproduseer kan word, of dit bekostigbaar vir die verbruiker is en of dit veilig is.
“As ’n mens in ag neem dat grond beperk is, het intensiewe boerdery die potensiaal om grond wat nie noodwendig vir die landbou gebruik word nie, te benut – soos geboue se dakke of selfs binne geboue,” verduidelik Janovsky. “Dít, in samewerking met die digtheid van produksie sowel as doeltrerffende water- en arbeidgebruik, en spesifiek vervoerkoste, het die potensiaal om produksie nader aan die verbuiker te bring.”
Dié metode het ook die vermoë om ’n mikroklimaat te skep wat gemanipuleer kan word om konstante produksie te verseker, wat seisoenaliteit uitsluit.
Ekspo fokus op tegnieke
Die bogenoemde redes is hoekom die bankgroep betrokke is by die Undercover Farming-ekspo wat dié jaar vir die tweede agtereenvolgende jaar in Centurion aangebied word. Dit fokus op intensiewe boerderytegnieke en bied ’n groot uitstalling van intensiewe boerderybedrywe aan – asook plaasbesoeke, netwerkgeleenthede, werksessies en ’n hoë vlak-konferensie.
“Binnenshuise uitstalruimte by vanjaar se ekspo is reeds vol bespreek en ons het baie beperkte spasie vir buite-uitstallers beskikbaar. Ons uitstallers dek ál die aspekte betrokke in hidroponiese produksie, van die konstruksie van die tonnel, groeimediums en klimaatbestuur, tot verpakking en uitvoergeleenthede,” sê me. Hanlie Delport, geleentheidsbestuurder.
Die ekspo word beskryf as ’n uitstekende inligtingsbron vir bestaande en potensiële produsente en aankopers van blomme, groente, vrugte en saailinge wat hidroponies onder beskutting verbou word, asook vir verskaffers in die bedryf.
Die ekspo is van 5 tot 7 Maart 2013. Vir meer inligting oor die ekspo besoek www.undercoverfarmingexpo.co.za.