
Die geneties gemodifiseerde aartappelkultivar SpuntaG2 mag nie in Suid-Afrika verbou word nie. AfricaBio meen dit is nie weens veiligheidsredes nie, maar eerder vanweë tegniese en sosiaal-ekonomiese redes.
Ondanks teenstand van die aartappelbedryf, kleinhandelaars en die Afrikasentrum vir Bioveiligheid (ASB) teen die kommersiële verbouing van die geneties gemodifiseerde aartappelkultivar SpuntaG2 in Suid-Afrika, hou AfricaBio, ’n GM-belangegroep, vol dat dié aartappel plaaslike boere sal help. Die Landbounavorsingsraad (LNR) se aansoek om die verbouing van aartappels in Suid-Afrika toe te laat, is verlede maand afgekeur.
Volgens AfricaBio is die aartappel nie afgekeur weens veiligheidsredes nie, maar eerder om tegniese en sosiaal-ekonomiese redes. Daar is teenstrydige inligting beskikbaar oor die ware nut van dié GM aartappel in Suid-Afrika aangesien dit weerstand teen spesifiek die aartappelmot het. AfricaBio sê die aartappelmot is een van die grootste bedreigings vir plaaslike aartappelverbouing, maar die ASB sê dié plaag is nie ’n ernstige probleem in Suid-Afrika nie.
Menings in die bedryf is ook verdeeld. ’n Leser van landbou.com meen dié aartappel is “gif”, terwyl mnr. Hans van Rensburg, aartappel- en mielieboer by Bronkhorstspruit, meen die aartappel “is goeie nuus”. Hy sê hy sal dit beslis plant. “My spuitkoste beloop meer as R1 000 per ha en dié aartappels sal grootliks bydra om my produksiekoste te verlaag.” Die skade wat die aartappelmot aanrig, word op sowat R40 miljoen per jaar beraam. Bespuitingskoste beloop sowat R10 miljoen. Dié soort bestryding beskadig egter die omgewing en wis ander insekte uit wat nie geteiken word nie.
Volgens AfricaBio het die Suid-Afrikaanse reguleerder “inderwaarheid namens boere besluit deur die aansoek in dié stadium te weier en boere die geleentheid ontneem om die verbeterde aartappel te plant en self te evalueer”, lui ’n mediaverklaring wat namens die organisasie uitgereik is.
Mnr. L. de Kock, hoofbestuurder van Ceres Aartappels, meen die aartappelmot is die ergste aartappelplaag. “GM aartappels sal kostebesparings meebring en bespuiting met gif grootliks uitskakel. Dié aartappels sal vir die kleinboer ’n groot seën wees. Hulle het dikwels nie toegang tot insekmiddels nie.”
Hy meen daar is “geen verskil tussen GM en nie-GM aartappels nie. “Suid-Afrika en Afrika het ’n GM aartappel nodig.”
SpuntaG2 op landbou.com:
11 November 2009