Ek is in die Oos-Kaap, in Cofimvaba, gebore, maar het in Kaapstad verder gaan studeer. Daar het ek ’n nasionale diploma in reis-en-toerismebedrywighede verwerf. Ek het in Maart 2020 begin boer nadat ek my spyseniersonderneming weens die covid-19-pandemie moes sluit.
Die vraag na my diens het eenvoudig opgedroog. Dit was my enigste inkomste en ek moes aan maniere dink om weer ’n inkomste te genereer. Ek het myself toe leer boer en alles wat ek kon op die internet geleer.
Ek huur in Mfuleni my plaas van 3 600 m2. Ons spesialiseer in gewasboerdery en plant spinasie in die winter en soetrissies in die somer. Daar was ’n behoefte daaraan in my gemeenskap. Ons boer ook met braaihoenders en ou lêhenne van hoenderplase.