
’n Paneel van sewe beoordelaars proe dié week sowat 1 900 van die land se beste jongwyne om ’n kampioen te kies.
Luidens ’n verklaring kon wyne in 93 klasse vir wit- en rooiwyne asook port, dessertwyne en muskadel ingeskryf word.
Die inskrywings ding mee om 19 toekennings, waaronder die gewilde Generaal Smuts-trofee vir die beste wyn en die Pietman Hugo-trofee vir die kelder met die vyf beste wyne.
Die verskillende witwynklasse sluit onder meer Chenin blanc, Sauvignon blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivars, Droë Wit Versnitte, Effe Droë Witwyne en Edellaatoes in. Die rooiwyne ding mee in klasse vir Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivars en Droë Rooi Versnitte.
Rooi houtversnitte
Die rooi houtverouderde versnitte is die jaar glo een van die gewilde klasse met 103 inskrywings, terwyl die houtverouderde Shiraz 101 inskrywings het. Die Sauvignon blanc lê derde met 96 inskrywings en wit versnitte (nie-muskaat) het 94 inskrywings.
Die toekennings bied aan wynmakers die kans om hul jong wyne met die bestes op die mark te vergelyk. Dit word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging aangebied en die wyne word in “hul kinderskoene - met ander woorde in die jaar van produksie”, beoordeel.
Agtste beoordelaar
Die beoordelaars sluit gekwalifiseerde wynmakers en wynkundiges in en ’n agtste leerlingbeoordelaar maak deel uit van die paneel. Sodoende kan ’n volgende geslag beoordelaars met praktiese opleiding en ervarings voorberei word.
Die wenners sal op 19 Augustus op Lambertsbaai aangekondig word.
26 Julie 2011