
Jy moet passie hê in wat jy doen. As jy dit nie het nie, gaan jy nie suksesvol wees nie, sê mnr. Gerhard Swart (33) van Flagstone Winery.
Swart het die Generaal. Smuts-trofee, die hoogste eer vir ‘n jongwyn, by die 2010 SA Jongwyn-toekennings by die Lord Charles-hotel in Somerset-Wes vir Flagstone Winery se Sémillon gekry.
Dit is die eerste keer sedert 1952 dat dié kultivar dié besogte trofee wen. Die wyn is ook as SA Kampioen Sémillon aangewys.
Volgens Swart is die sleutel tot ‘n bekroonde wyn dat jy toegewyd aan die fyn besonderhede moet wees en ook bereid moet wees om baie ure in te sit.
Toekomsplanne vir Swart is om Flagstone Winery as een van Suid-Afrika se top wynkelder te vestig. “Met al die trofees en toekennings wat ons die laaste tyd gekry het, sal ek sê ons is goed daarnatoe oppad.”
Flagstone se Word of Mouth Viognier 2008 is ook as die algehele beste wit wyn op die 2010 Old Mutual Trophy Wynskou aangewys.
Swart, wat al ‘n dekade in die wynbedryf is, het aan die Elsenburg Landboukollege gestudeer en wou eers ‘n landbou-rigting inslaan voor hy op wynmakery besluit het. Hy het in 1998 by Flagstone Winery in die Waterfront begin voordat die wynmakery in 2000 na Somerset-Wes geskuif het.
20 Augustus 2010