
Die Suid-Afrikaanse wynlandgoed Journey’s End is die tweede jaar agtereenvolgens as etiese maatskappy van die jaar en beste waterbestuurder van die jaar aangewys met die jaarlikse The Drinks Business Green Awards. Die toekennings is onlangs in Londen oorhandig.
Die beoordelaars het Journey’s End in albei kategorieë eenparig as wenner aangewys. Hulle sê die landgoed het bo die res van die mededingers uitgetroon het. Die landgoed is onder meer vereer vir sy ondersteuning van die Kaapse Wynland se plaaslike gemeenskap en vir sy waterbestuurstelsel wat verseker dat die reën wat op die plaas val, ten beste benut word.
“Ons is uiters trots op ons span wat so hard werk om die groen projekte op die plaas toe te pas,” sê mnr. Rollo Gabb, bestuurshoof van Journey’s End, in ’n verklaring. “Die waardes waarop Journey’s End gegrond is, is om te verseker dat na die omgewing omgesien word en dat die mense in ons gemeenskap ondersteun word. Ons is daaraan toegewy om hierdie inisiatiewe vol te hou.”
Die Gabb-familie het die landgoed by Sir Lowry’s-pas in 1996 gekoop en streef sedertdien na volhoubaarheid. Met die samewerking van die plaaslike gemeenskap het Journey’s End in 2021 koolstofnegatief-status bereik deur 6 000 spekbome te plant. Die wêreldnatuurlewefonds (WWF) het die landgoed as ’n bewaringskampioen aangewys. Die plaas gebruik sedert 2014 slegs sonkrag.
Oor die afgelope jaar het Journey’s End sy waterbestuurstelsel verbeter deur kanale in die wingerde aan te bring sodat drupbesproeiing in al die wingerde toegepas kan word. Die landgoed monitor en hergebruik soveel moontlik van die plaas se afvalwater.
Die toekenning as etiese maatskappy van die jaar gaan aan ’n onderneming wat toegewy is aan die gemeenskap en omgewing waar hy bedryf word. Dit neem in ag hoe die gemeenskap baat vind by die daaglikse bedrywighede van die maatskappy.
Die toekenning vir waterbestuur gaan aan ondernemings wat inisiatiewe toepas wat die doeltreffender gebruik van water aanmoedig, insluitend die verwerking van afvalwater. Dit tel in die onderneming se guns as die plaaslike gemeenskap by die waterbestuurbeleid baat vind.