
Die eerste drie wenners van Perold Absa se kompetisie vir Kaapse versnitte is onlangs in die Paarl vereer.
Die drie wyne is die Bosman-familiewingerd se Erfenis 2010, die Swartland Idelia 2009 en die Wildekrans Jake White Cape Red 2009. Die wyne is die skeppings van me. Corlea Fourie en mnre. Andries Blake en William Wilkinson, die wynmakers.
Die wenners is Donderdagaand (10 November 2011) in die tuine van die KWV se hoofkantoor aangekondig. Mnr. De Wet Viljoen, onder-voorsitter van die Pinotage-vereniging, het die geleentheid as gepas bestempel, aangesien hulle by dié wynreus toestemming gekry het om die Perold-naam aan die kompetisie te koppel.
Bevorder rooiwynversnitte
Die kompetisie is verlede jaar in Stellenbosch deur Absa en die Pinotage-vereniging geloods. Dit het tot stand gekom om te voldoen aan die wens van talle van die vereniging se lede om ’n rooiwynversnit, waarvan Pinotage ’n betekenisvolle komponent moet uitmaak, te bevorder.
Elkeen van die wenners het met ‘n sertifikaat en ’n iPad weggestap. Die iPad moet onder meer gebruik word om oor hul reis na Frankryk aanstaande jaar, wat deel vorm van die prys, te blog. Die drie wenners sal dié reis ter waarde van sowat R40 000 per wynmaker, tegelyke tyd onderneem.
Inskrywings
Elke wyn wat vir die kompetisie ingeskryf is, moes tussen 30% en 70% Pinotage bevat. Die wynmakers moes ook sorg dat sowat 900 liter van elke inskrywing teen 9 September vanjaar gebottel was, want dit moes tot en met die aankondiging van die wenners vir verkoop beskikbaar wees.
Drie bottels van elke wyn wat ingeskryf is, moes die inskrywing as ’n monster vergesel. Die bottels is willekeuring deur die wynmakers gekies.
Die doel van die kompetisie is om jaarliks drie Kaapse versnitwyne – waarvan die gehalte-eienskappe uniek is – te identifiseer, sodat dit ’n betekenisvolle impak op die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die plaaslike en internasionale wynmark sal hê.
11 November 2011