
Die huidige pekanneut-oesskatting van 14 000 ton is afwaarts aangepas na tussen 9 000 ton en 10 000 ton, sê mnr. Heiko Meier, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pekanneut-produsentevereniging (Sappa).
Maar, sê Meier, indien 10 000 ton pekanneute wél vanjaar geoes word, sal dit steeds die grootste pekanneutoes ooit in Suid-Afrika wees.
Sappa se nasionale navorsingskomitee het die oesskatting aangepas na 'n onlangse opname. Uit die opname was dit duidelik dat die uitgerekte droogte in die weste en noordweste van Suid-Afrika 'n noemenswaardige uitwerking het op die oesgrootte. Veral produksie in die Vaalharts-besproeiingskema, wat meer as 50% van die produksie verteenwoordig, is beïnvloed en sal nou 'n normale oes eerder as 'n bogemiddelde oes insamel. Goeie reëns die afgelope weke in dié gebied het groot verligting gebring en behoort tot goeie neutvulling en uitstekende gehalte te lei.
Volgens Meier was vanjaar se blom en neutset baie goed ná verlede jaar se kleiner oes. Die uitgerekte droogte en hoë temperature in die weste het egter tot gevolg gehad dat besproeiingstelsels dikwels nie genoeg water kon toedien om die ondergrondse vogreserwes optimaal te hou nie. Sodra bome vogstremming beleef, sal van die neute in 'n tros nie ontwikkel nie en afspeen. Uit die vier tot ses neute aan 'n tros, sal dan net twee of drie neute vol ontwikkel, wat trosgrootte en opbrengs beïnvloed.
Rypskade
In die Upington-gebied het uitermate laat koue oesskade op sekere kultivars tot gevolg gehad. Laat ryp het al die vroeë kultivars soos Ukulinga, Navaho en Barton se drag is beïnvloed. Sommige bome het ses tot tien meter van die grond af nog rypskade gekry. Dit het nog nooit voorheen in die gebied gebeur nie. Gewoonlik kom rypskade net op die onderste een tot twee meter voor en beïnvloed dit nie werklik die oes nie.
Die vroeë oesskatting van 14 000 ton is bereken op die groot getal jong bome wat in produksie kom en dit moes nou aangepas word weens droogte en rypskade.
“Die direkte gevolg van 'n kleiner oes vanjaar, is 'n groter oes volgende jaar en beter gehalte vir die huidige seisoen se oes,” sê Meier.